Die jaarlikse veldtog Movember begin vandag; dus kan jy verwag om ’n toename in harige bolippe te sien. Ons het met die Movember-ondersteuner Mark Pilgrim oor sy eie kankerdiagnose gesels, en hom gevra wie hy dink die beste moestas het.

Testikulêre kanker is op 18 by jou gediagnoseer. Het jy destyds enigiets van die simptome geweet?

Ek het absoluut niks geweet nie. Ek het selfs nie geweet wat ’n geswolle testikel dalk kan beteken nie. Die algemene en groot fout wat baie van ons maak, is om simptome te ignoreer. Wanneer ons iets verkeerd sien, sê ons: “Kom ons kyk of dit more nog daar is.” Elke dag wat ek nie daarna laat kyk het nie, was die kanker besig om deur my liggaam te versprei.

Watter soort behandeling het jy ontvang?

’n Testikel is verwyder en ek het nege (lang) maande chemoterapie gekry.

Hoe lank het dit verlede jaar geduur om ’n behoorlike snor te kweek?

Omtrent ’n week of wat om soos ’n jong Magnum te lyk.

Wat is die slegste/beste van ’n snor?

Daar is geen beste nie. My vrou wou my in die hele maand van Movember verlede jaar glad nie soen nie.

Watter bekende het die beste snor?

Ongetwyfeldsal Tom Selleck altyd die snorkoning wees.

Watter plaaslike bekende het die beste snor?

Tony Blewitt in die 90’s.

Hoe neem ’n mens deel aan Movember? 

Sluit aan by die span deur www.movember.com te besoek, en begin jou snor kweek. Mo Susters, julle kan ook help deur te registreer en die mans wat ’n snor kweek, aan te moedig.

Wat wil jy graag met die veldtog bereik?

Dit gaan oor bewusmaking. Vroeë diagnose kan lewens red. Ware mans gaan vir ’n ondersoek. Die geld wat ingesamel word, gaan vir navorsing en ondersteun oorlewingsprogramme waarby mans verskillende behandelingsopsies en ondersteuning kry.

Wys jou ondersteuning deur aan te sluit by www.movember.com. Volg die veldtog op Facebook en Twitter.

Petro-Anne Vlok

Petro88

Verwante artikel:

Movember-geskiedenisles