Die motorwasser wat agter die stuur was toe Belinda Louw by die motorwassery van ’n Sasol-vulstasie in Pretoria getref is, is ontslaan.

Eduan van As, die vulstasie-bestuurder, het gesê behalwe dat die man met onmiddellike effek afgedank is, kan hulle nog nie meer besonderhede bekend maak nie. “Sodra ons meer kan bekend maak, sal ons ’n verklaring uitreik.”

Belinda (35) is Sondagnag dood nadat sy sedert die voorval kritiek in ’n hospitaal in Pretoria behandel is. Sy was 38 weke swanger en haar baba sou na verwagting op 19 Augustus gebore word. Belinda en haar verloofde, Corné Hitge, se eersteling sou Ryan heet.

Belinda het by die motorwassery op die hoek van Johan Heynsrylaan en Ben Swartstraat gewag dat haar motor klaar gewas word toe die motor oor haar ry.

Kapt. Coba Britz, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek. Die motorwasser het reeds ’n verklaring afgelê. Sy sê ’n paar verklarings is nog uitstaande. “Die dossier gaan nou hof toe, waar ’n besluit geneem sal word. Ons neem nie net iemand in hegtenis nie. Die hof maak die beslissing.”

Coba sê dit was ’n baie moeilike situasie en almal wat geraak word, is baie emosioneel.

Lindi Calitz, ’n jarelange vriendin van Belinda, was Dinsdagoggend baie emosioneel oor haar vriendin, met wie sy van skooldae af bevriend was.

“Dit voel nog onwerklik. ’n Mens lees oral van alles,” het sy huilend gesê. Sy en Belinda het mekaar die afgelope tyd gereeld gesien.

Lindi het Belinda beskryf as die borrelendste mens wat sy geken het. “Sy was ’n bok vir sports en altyd die lewe van ’n partytjie. Sy het altyd almal se dag opgekikker.”

Lindi was die fotograaf wat onlangs foto’s van ’n stralende swanger Belinda en Corné geneem het. Op 13 Julie het sy op Facebook by die album geskryf: “Belinda en Corné, wat ’n voorreg was dit nie om hierdie kosbare tyd in jul lewe op kamera vas te vang. Kan nie wag vir klein Ryan nie.”