Het jou kind die potensiaal om goed te vaar, maar dit lyk asof sy sukkel om die mas op te kom? Dalk is haar punte swak of sy presteer ondergemiddeld in ’n sport of ander aktiwiteit. Jy glo waarskynlik jou kind kan beter vaar, maar hoe motiveer jy hom?

’n Moontlike oplossing is om jou kind se persoonlikheid te verstaan. Die kindersielkundige dr. Jolanda Dreyer sê jou benadering tot die uitdaging van ’n onderpresterende kind, hang van die kind se geaardheid af.

Vir ’n meer blymoedige en opgewekte kind, het ’n ouer dalk ’n direkter benadering nodig met gewaarborgde belonings en ’n bietjie streng liefde. Vir ’n buieriger kind stel sy ’n subtieler benadering voor met groot klem op opbouende woorde.

Sy voeg by dat ouers moet vasstel of hul kind wel onderpresteer. “Baie ouers weet nie wat hul kind se potensiaal is nie. Ons glo almal ons kinders is slim, en hoewel dit ’n mooi eienskap is, is ons soms in die duister oor wat ons kind se eintlike vermoë is.”

Wenke om jou kind aan te moedig:

  • Raak betrokke. Bring tyd saam met jou kinders deur terwyl hulle huiswerk doen en kyk of jy kan vasstel wat die probleem is.
  • Praat met onderwysers. Onderwysers kan jou moontlik ’n aanduiding gee waar die probleem lê, en jou dan lei na ’n oplossing.
  • Gebruik die regte taal. Kies jou woorde verstandig; onderpresteerders reageer beter op subtiele gesprekke. Pleks van: “Gaan doen jou huiswerk of jy word gehok,” praat met ’n ferm, maar meelewende toon en sorg dat jy die kind se naam en die woord “soms” gebruik. Probeer: “Johan, ek weet dit is soms moeilik om aan die gang te kom. Wat wil jy eerste doen: wiskunde of Engels?” Die keuse bemagtig jou kind in ’n sekere mate en dis nodig vir onderpresteerders wat dikwels magteloos voel. Die geheim is om aanmoedigend te praat, pleks dat jy krities of baasspelerig is.
  • Stel ’n stelsel in. Beproef 25 minute leertyd met ’n blaaskans van vyf minute daarna. In die blaaskans kan die kind ’n klein beloning geniet omdat sy baie hard gewerk het.
  • Raak georganiseerd. Daar is dikwels ’n groot verskil wanneer ouers hul kinders help beplan en doeltreffend organiseer. ’n Gebrek aan behoorlike beplanning vir die week, maand en kwartaal kan lei tot onvoldoende tyd om werk te voltooi of op ’n toets of eksamen voor te berei.

’n Goeie verhouding tussen jou en jou kind help probleme betyds uitken en ’n verskil maak. Maar wat doen jy as jou kind ondanks jou beste pogings misluk? Jolanda stel voor jy werk saam met ’n kenner. “Dis moeilik om ’n kind te motiveer wat misluk het, en ouers is soms ewe verslae as die kind. Daar skort niks met weer probeer nie; dis nie hoe jy begin nie, maar hoe jy klaarmaak, wat tel,” sê sy.

Kry hulp by kenners:

  • Soek ’n ervare kenner wat nou met jou kan saamwerk. Kies iemand wat in kindergedrag en opvoeding spesialiseer.
  • Kry berading as jy vermoed die probleem het ’n sielkundige of emosionele oorsaak.
  • Gebruik ’n gekwalifiseerde tutor wat jou kind met spesifieke skoolvakke kan help. Tutor-agentskappe en universiteite het verwysingsnetwerke vir sulke assistente.

-Koketso Mashika