Die vergete man van Suid-Afrikaanse krieket – dis hoe baie krieketliefhebbers tot onlangs nog van Morné van Wyk gepraat het. Maar toe maak Graeme Smith weer sy hand seer...

Dit was net voor die Proteas se T20-wedstryd teen Indië op 9 Januarie in die Moses Mabhida-stadion in Durban. Morné (31), blitsige aanvangskolwer en paaltjiewagter van die Vrystaatse Knights, is inderhaas as plaasvervanger ontbied.

In daardie stadium was hy nie in die voorlopige groep vir die Wêreldbeker nie. Trouens, daar is gesê Thami Tsolekile kan maar sy tasse pak as die tweede paaltjiewagter in die Wêreldbekerspan.

Maar Morné het die kans om kolfkrag uit te stal met albei hande gegryp. Hy het 67 lopies gemoker, onder meer 50 van net 24 balle – die vinnigste 50-tal ooit in T20-wedstryde deur ’n Suid-Afrikaner. En toe die span vir die Wêreldbeker op 18 Januarie aangekondig is, was sy naam daar. En Thami was nou die vergete man...