Gister is die saak teruggetrek wat teen die ma van twee aanhangig gemaak is omdat sy onwettig in die land aangebly het nadat haar verblyfpermit verstryk het. Dit beteken Morgan (33), wat twee jaar laas in haar geboorteland of by haar twee sibbes was, kan hulle weer besoek, word berig.

A post shared by Morgan Deane (@morgandeane) on

Morgan het die goeie nuus gister in die sosiale media gedeel. “Absoluut verheug dat my Suid-Afrikaanse visumsaak vanoggend uitgegooi is. Dankie, Vader! So ’n wonderlike dag! Ek voel baie verlig!” het sy op Facebook geskryf.

Luidens berigte is Morgan in Desember ’n paar uur in ’n sel aangehou omdat haar visum ’n jaar vroeër verstryk het. Sy het dit nie betyds hernu nie.

Morgan en Graeme se egskeiding sal vermoedelik eers aanstaande maand afgehandel word. Die twee het in 2011 afgehaak, maar in Februarie 2015 aangekondig hul paadjies gaan skei.

Hulle het ’n vierjarige dogter en ’n driejarige seun. Graeme het intussen weer pa geword van ’n seun by sy nuwe lewensmaat, die Kaapse prokureur Romy Lanfranchi.

Morgan het onlangs op haar blog, The Green Girl’s Guide to Divorce, vertel hoe die egskeiding haar en die kinders geraak het. Sy vertel haar dogter het soms gillend wakker geskrik.

“Terwyl sy wakker geword het, kon ek sien hoe sy sukkel om agter te kom in watter huis sy is. Sy was verward en uit haar roetine,” skryf Morgan.

“Soveel veranderings het plaasgevind, en tog was my kinders nog so jonk. Dit het later opgehou, maar selfs nou, tot vandag, steek vreemde nuwe gedrag van tyd tot tyd kop uit. Die gesin wat my kinders geken het, bestaan nie meer nie, en hulle het tyd nodig om aan te pas.”

Bronne: netwerk24.com, thegreengirlsguide.co.za