Só vertel Johan Delport wat sewe huise in die straat af bly van waar Danie Small Woensdagmiddag drie mense doodgeskiet het. Een van dié mense is Edward Gobey, die kompleks se veiligheidsbestuurder. Danie is later dood in sy huis aangetref. Dit is nie bekend of hy homself geskiet het nie. Johan sê Danie se huis is in die hoek van dié kompleks in die ooste van Pretoria. Johan bly nie in die kompleks nie, maar in die straat. “Toe ek by die huis kom, het ’n polisiehelikopter oor my huis gesirkel. Hy was so naby aan ons huis, ek kon die oë van die polisieman sien wat by die helikopter se deur uithang,” sê Johan. “Ek het gedink daar was weer iewers ’n rooftog en dat ek maar eerder die huis moet toesluit.”

’n Kort rukkie later het Johan se vrou, Rona, hom gebel en gesê sy kan nie by die huis uitkom nie omdat die polisie die pad afgesper het. Johan het op sy fiets geklim om te kyk wat aangaan. Net sowat 50 m van sy huis af het hy ’n polisielint teëgekom. Buite die kompleks het tientalle mense saamgedrom. Baie was inwoners wat nie toegelaat is om na hul huis te gaan nie.

“Een van die mans wat buite gestaan het, bly in die kompleks so skuins oorkant die man se huis. Die mense wat in die kompleks bly, kon nie ingaan nie,” sê Johan.

“Die ou het my vertel die man is baie moeilik. Hy het glo al een ou se hond en ’n ander ou se kat doodgeskiet. Hy het al gedreig om mense te slaan. Daar is mense in die kompleks wat al aanrandingsake teen hom aanhangig gemaak het. Volgens die ou is hy ’n heavy moeilike ou.

“Hy het vir my gesê as daar ’n skietery uitbreek, kan dit gevaarlik raak want die ou is gewese militêre ou.

“Ek het met ’n ander ou gepraat wie se broer in die kompleks in hul huis was. Die outjie was in matriek en het by die huis studeer. Hulle bly oorkant die man. Die ou het vir sy broer oor die foon gesê die polisie het aan hul deure kom klop en gesê hulle moet in hul huise bly, hulself toesluit en laag lê.

“Hulle was te naby aan die voorval. Die polisie kon dit nie waag om hulle uit hul huise te ontruim nie omdat die man glo sommer iemand sou skiet as hulle in die straat stap.”

Johan sê iemand het eers later die aand aan hom verduidelik waar Danie Small, die skieter, se huis is. Volgens Johan is dit die naaste huis aan die pad. Van waar hulle agter die polisielint gestaan het, was dit sowat 60 m na die man se huis.

In ’n stadium het die polisie hulle nog 50 m agtertoe geskuif en gevra om om die hoek te gaan staan, “want iets gaan heel moontlik gebeur”, het die polisiebeampte aan hulle gesê.

Teen 19:30 is twee polisielede en drie veiligheidswagte van die Brinant-veiligheidsmaatskappy, wat in Small se erf vasgekeer was, bevry. Teen 22:00 het die taakmag Small se huis binnegegaan, waar hulle hom dood aangetref het.