Plettenbergbaai – ’n Dooie moordwalvis het op Plettenbergbaai in die Wes-Kaap op die strand uitgespoel.

“Hy was reeds dood toe hy op die strand uitspoel en die (munisipale) opruimdiens het dit verwyder,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, gesê.

“Die departement van omgewingsake het monsters van hom geneem.”

Die diere, wat algemeen as moordwalvisse bekendstaan, word ook orcas genoem.

Craig het gesê die walvis is Sondag aangetref.

Dit is nog nie duidelik of dit dieselfde jong orca was wat verlede week suksesvol in die see teruggelaat is nadat hy verlede week op Robberg-strand gevind is nie.

Daardie orca van sowat 6 m lank is Vrydagaand op die strand gevind en lede van die publiek het water op hom help gooi om hom nat te hou, het Craig Saterdag gesê.

Dit was vermoedelik dieselfde walvis wat ’n paar dae tevore op Plettenbergbaai naby die strand geswem het.

’n Veearts het daar aangekom en daar is probeer om die walvis weer in die water te kry, maar die dier het kort daarna weer op die strand uitgespoel.

Die reddingspan kon toe die walvis dieper in die water kry en het saam met die dier geswem om hom dieper in die water in te lok.

In ’n poging om die dier te ontmoedig om weer strand toe te swem, het die span ’n ketting in die water gevorm terwyl die walvis aanhou probeer het om na die strand toe terug te keer.

Hul pogings was suksesvol en die walvis het na die see teruggekeer.

Die walvis is weer langs die strandfront gesien en ’n lid van die publiek het gemeld die walvis het gevreet, het Craig toe gesê.

News24

Bron

http://www.news24.com/SouthAfrica/News/dead-killer-whale-found-on-plett-beach-20151215

Weergawe

1