Sy regsverteenwoordigers sou Maandag psigiatriese verslae by die hooggeregshof in Polokwane ingedien het wat toon dat Patel aan depressie lei.

Die saak is egter tot Donderdag uitgestel omdat sy prokureur, Thumi Mokwena, siek is.

Patel het op 6 April vanjaar in die hof verskyn waartydens hy uitstel van die saak teen hom versoek het vanweë die emosionele spanning wat hy ervaar. Hy wou ook nie na 'n psigiatriese hospitaal gestuur word vir evaluering nie.

Die psigiater wat deur sy prokureur versoek is om te getuig, Steven Molepo, het Patel se emosionele spanning onderskryf. Hy wou hê Patel moet rus waarna hy hom vir ses weke lank sal ondersoek.

Patel het weerstand gebied en aan die hof gesê hy is wel in staat om die verrigtinge te volg.

Die staatsaanklaer Mashudu Mudau het egter aangevoer dat daar met Molepo saamgestem word. Patel moet in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem word sodat die verhoor nie in gedrang gebring kan word as daar nie ag geslaan word op die moontlikheid dat Patel aan een of ander geestelike stoornis ly nie.

Agtergrond

Op 10 April 2015 is die verminkte lyk van Fatima Patel (29) in haar en Patel se huis in Nirvana gevind. Sy was wreed aangerand en geskiet.

’n Stomp voorwerp is in die aanval op haar gebruik.  Ses dae later is haar man, Patel (28), in hegtenis geneem vir die moord.

Die patoloog dr. Arnold Mamashila het op 19 Oktober 2016 in die hooggeregshof in Limpopo ontstellende getuienis gelewer rondom die moord op Fatima Patel.

Haar skedel en wangbene was versplinter en haar kakebeen was ontwrig.

Hy het getuig die verwurging, koeëlwond en beserings aan haar gesig kon tot haar dood lei. 

Haar skedel en wangbene was versplinter en haar kakebeen was ontwrig. Patel het volgehou ’n inbraak het tot sy vrou se grusame dood gelei.

Die polisie het egter geen teken van gedwonge toegang gevind nie. Patel het luidens berigte by sy oom se huis gaan bad en drie keer ander klere aangetrek. Hy het ook geweier om van die klere wat hy aangehad het aan die polisie te oorhandig.

Bykomende bron: news24.com