Petra Pazsitka was 24 jaar oud toe sy op 26 Julie 1984 verdwyn het. Sy het glo geld uit haar bankrekening getrek en haar bure gevra om na haar troetelvoël om te sien.

Die jong vrou is ná ’n vrugtelose soektog dood verklaar nadat ’n man erken het hy het haar vermoor. Hoewel haar liggaam nooit gevind is nie, is die saak gesluit.

Nou is die einste vrou dekades later op 55 jaar ontdek nadat ene mev. Schneider ’n inbraak by haar huis in Dusseldorf, ’n stad in die weste van Duitsland, aangemeld het.

Sy het geen identiteitsdokument gehad nie en aan die polisie erken sy lewe onder ’n valse identiteit.

“Sy het geen motief verskaf oor haar verdwyning nie en uitdruklik gesê sy wil nog steeds geen kontak met die publiek of haar familie hê nie,” het ’n polisiewoordvoerder aan die Independent gesê.

Die vrou se broer en ma was glo “geskok en in trane toe hulle die nuus hoor”.

Dit wil voorkom of sy ongesiens haar gang kon gaan omdat sy nooit ’n bankrekening geopen of ’n bestuurslisensie of paspoort gekry het nie. Sy het vir alles in kontant betaal.

Die bejaarde vrou is nou amptelik lewend verklaar en sal nie aangekla word nie.

Bronne: independent.co.uk, time.com