Morné Kuhn (35), ’n nutsman van Brits, is Vrydagmiddag (10 Maart) voor sy 11-jarige dogter doodgesteek in ’n voorval van padwoede.

polisie

’n Woordewisseling het ontstaan nadat Morné en ’n taxibestuurder albei by die Alfa-aansluiting stilgehou het. Die man het Morné met ’n mes gesteek en hy is binne minute op die toneel oorlede.

“Dit is bitter moeilik om te aanvaar,” vertel Morné se jonger broer, Andre (30), uit Brits se landdroshof waar die vermeende moordenaar (32) na verwagting vandag (13 Maart) sal verskyn.

André het reeds Maandagoggend vroeg sy broer se lyk gaan uitken voor hy hof toe gegaan het.

“Dit is nie maklik nie,” sê hy aan huisgenoot.com oor sy broer se skielike dood, en raak vir ’n ruk stil.

Intussen het ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die Brits-polisiekantoor, bevestig dat ’n saak van moord ondersoek word.

“Die 32-jarige taxibestuurder het Vrydag 16:50 na bewering ’n mes uitgehaal en die slagoffer in die linkerkant van die bors gesteek. Die slagoffer is kort daarna dood verklaar,” het Talane bevestig.

“Dit is so onwerklik,” het Ansie Stander, ’n vriendin en voormalige kollega van Morné, ook aan huisgenoot.com gesê.

Sy het Donderdag (9 Maart) nog met hom gesels oor ’n moontlike hengelnaweek. Hy het dikwels saam met Ansie, haar man en kinders gaan visvang. Sy beskryf hom as ’n goeie vriend wat geleef het vir sy twee dogtertjies, sy werk en visvang.

“Vandag los jy ons met ’n groot leemte” en “Jy was ’n goeie mens, altyd met ’n glimlag op jou gesig. Jy sal gemis word, rus sag,” lees die boodskap op haar Facebookblad.

Morné word later dié week begrawe.