’n Federale regter het bevind John Lane (66), wat 20 jaar gelede tronk toe gestuur is, het genoeg bewys gelewer om aan te toon dat sy geestesongesteldheid hom verhoed het om vroeër appèl aan te teken.

Lane is in 1984 skuldig bevind aan die moord op Angela Palmer. Hy het haar in sy woonstel in die oond gesit en dit toe aangeskakel.

’n Stoel onder die oonddeur se handvatsel het gekeer dat sy uitklim.

Brandweerlui van die stad Auburn in die noordoostelike Amerikaanse deelstaat Maine wat gereageer het op ’n klagte oor rook in die woonstelgebou, het in die woonstel op die dogtertjie se oorskot afgekom.

In ’n mosie wat by die federale hof ingedien is, beweer Lane dat sy prokureur nie daarin geslaag het om hom in 1984 tydens die moordverhoor behoorlik te verdedig nie.

Hy voer aan sy prokureur moes sy geestesgesondheidsrekords by die getuienis ingesluit het en die verklaring deur ’n psigiater, naamlik dat Lane die verkeerdheid van sy dade besef het, bevraagteken het.

Die regterlike appèlhof in Maine het, volgens hofverslae, Lane se skuldigbevinding in 1984 bekragtig.

Lane dien tans lewenslange gevangenisstraf in ’n gevangenis in Maine uit.

Die federale regter het aanbeveel dat Lane toegelaat word om aan te voer dat hy geestelik te siek was om vroeër te appelleer, en hy het ook die staat se mosie verwerp om die appèl ter syde te stel.

Die prokureur-generaal se kantoor moet binne 14 dae teen die regter se besluit appelleer, sou hulle wou.

Bronne: Sky News, Mirror.co.uk, CBS News