Die Belgiese reeksmoordenaar en –verkragter, Frank van den Bleeken (52), se grootste wens was om in die Belgiese tronk te sterf waar hy ‘n lewenslange vonnis uitdien.

Alles was gereed om hom gister ‘n dodelike inspuiting toe te dien, maar die owerheid het ‘n stokkie daarvoor gesteek.

Indien hiermee voortgegaan sou word, sou hy die eerste gevangene in die wêreld gewees het wat ‘n genadedood ontvang sonder dat hy terminaal siek is.

Frank sit nou reeds 30 jaar agter tralies na hy in die vroeë 1980’s op verskeie klagtes van moord en verkragting skuldig bevind is.

Verlede jaar het hy gesmeek vir genadedood, want, volgens hom is hy onrehabiliteerbaar weens ‘n geestesafwyking en kan nooit weer in die samelewing vrygelaat word nie. Maar hy wil ook nie vir die res van sy lewe in ‘n tronksel slyt nie.

Die Belgiese justisie-minister, Koen Geen, het dié versoek teen die einde van verlede jaar goedgekeur, maar verlede week aangekondig dat die proses nie meer sal voortgaan nie na ‘n aanbeveling van die dokters wat hom behandel. Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie, behalwe dat hy nou na ‘n psigiatriese eenheid in die tronk verskuif sal word.