Een verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die jong onderwyseres van Virginia.

[caption id="attachment_165353" align="alignnone" width="599"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Die lyk van Kay-Leen Peterson (24), ’n graad 1-juffrou van Lakeview Laerskool op die dorp, is Donderdagoggend in haar woonstel ontdek nadat sy twee dae agtereenvolgens nie by die werk opgedaag het nie.

Besorgde kollegas het haar ouers in Bloemfontein geskakel en hulle het vir Leonard McCaskill, ’n familievriend, gevra om te gaan ondersoek instel.

Toe Kay-Leen nie op sy klop by haar deur in die Villa Via-woonstelblok antwoord nie, het hy na die polisiekantoor oorkant die pad gestap en om hulp gaan vra. Hy en die polisie het op haar lyk in die slaapkamer afgekom.

Kay-Leen het glo skaars ’n week gelede by die woonstel ingetrek. Sy word oorleef deur ’n 5-jarige dogtertjie, wat by haar ouers woon.

Sersant Mamello Mokhuoane van die plaaslike polisiekantoor het bevestig dat een verdagte in verband met die moord aangekeer is.

“Dit is moeilik om te bepaal wat die oorsaak van haar dood is, want die bloed aan die wond het reeds opgedroog. ’n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak en geraamde tyd van haar dood kan bepaal.”

Kay-Leen se swart Renault Clio is ook intussen by ’n nabye informele nedersetting in Seloja in Meloding opgespoor.

Maar omdat sy net ’n week vantevore ingetrek het, kon daar nog nie bevestig word dat en of enige ander besittings van haar vermis word nie.

Die skool wou nie verdere kommentaar lewer nie.