Die aanklaer, Benito Adonis, het dié weergawe van die gebeure voorgedra.

Mario-César Deus Yela (48) het nie Maandag in die hof verskyn nie, want hy is in die hospitaal vir buikwonde behandel ná die aanval op die tweeling Donderdag.

Die lang, skraal, onversorgde Yela, geklee in jeans en ’n blou-en-wit top, het Woensdag stadig uit die aanhoudingsel opgestap.

Hy het verward gelyk en sy skouerlengte bruin hare was ongekam.

Benito het gesê twee aanklagte van moord en ’n aanklag van motordiefstal staar Yela in die gesig.

Middagete-uitnodiging

Na wat verneem word, het Yela die vakansiehuis vir drie weke gehuur om sy sewejarige seun en die tweeling, Maximo en Octavia, te besoek. Hy sou glo Donderdagaand terugvlieg na Spanje.

Op dié dag het hy vir sy eksvrou, Julia Engelhorn, ’n boodskap gestuur om haar te vra om daar te kom middagete eet, sê Benito.

Hy het bygevoeg toe Julia daar aankom, het Yela vir haar gesê hy het die tweeling om die lewe gebring.

“Sy het opgestaan, na die slaapkamer gegaan en op die tweeling afgekom. Die derde kind was nog in die skool. Yela het ’n mes by hom gehad. Hy het toe gedreig om haar te vermoor.”

Julia het na bewering opgespring, ontsnap en ’n veiligheidsbeampte by die landgoed vertel wat gebeur het.

Sy het ook haar seun se skool gekontak om hulle in te lig Yela moenie toegelaat word om die kind op te laai nie.

Yela is op die M3 in hegtenis geneem.

‘Delikate’ emosionele toestand

Adv. William Booth, vir die verdediging, het gesê sy kliënt het geen vorige veroordelings, uitstaande lasbrief of hangende saak teen hom nie.

Hy het bygevoeg Yela het ernstige beserings aan sy buik. Daar is bloed in sy urine, hy het twee nierstene, is duiselig en naar en ly aan hoë bloeddruk.

Twee sielkundiges het hom ook vinnig geëvalueer en stel tans ’n voorlopige verslag saam.

“Hy is emosioneel in ’n baie delikate toestand, en dit is iets wat gemonitor moet word,” het William gesê.

Benito het gesê die wonde is oppervlakkig en self toegedien, volgens ’n mediese sertifikaat wat Woensdag by die hof ingedien is.

Die saak is vir ’n week uitgestel sodat die staat borgtoginligting kan inwin.

Bron: News24