"Mooi so, Johannes!" "Jy het die regte besluit geneem." "Hy moes hulle al lankal gevra het om te gaan!"

[caption id="attachment_151033" align="alignnone" width="600"]Boer Johannes het in Donderdagaand se episode albei meisies huis toe gestuur. Boer Johannes het in Donderdagaand se episode albei meisies huis toe gestuur.[/caption]

Elke boer het in Donderdagaand se episode kans gekry om “alleentyd” saam met die vroue op hul plaas deur te bring.

In volgende week se episode moet die boere tussen die twee dames kies en sodoende besluit watter vrou hy beter wil leer ken. Maar Johannes het dinge in Donderdagaand se episode sommer vinnig kortgeknip.

Hy het alleen met Marga en Danelle gepraat en vir hulle gesê hy het besluit om hulle eerder albei huis toe te stuur. Dié boer van Robertson het dit baie diplomaties en met baie deernis hanteer.

“Ek sien jou op die oomblik meer as iemand met wie ek vriende kan raak as iemand wat by my gaan pas in ’n verhouding,” het Johannes aan Marga gesê.

“As dit (’n verhouding) nie van beide kante af kom nie, is dit nie nodig om verder daaroor te dink nie,” het hy kort daarna bygevoeg.

En Danelle het erken dat sy nie op ’n plaas sal kan aanpas nie.

Die afgelope paar weke was stormagtig op Boer Soek ’n Vrou se Facebook-blad. Die kykers kon maar net nie vatplek aan Danelle en Marga kry nie. En oor en oor moes die vervaardigers vir kykers vra om mooi te wees en nie soveel klippe te gooi nie.

Kykers het Johannes sedert Donderdagaand geprys vir hoe hy dié moeilike besluit hanteer het.

"Nee wat, Johannes, die Here sal die regte een stuur en sy is dalk tussen die ander briefies," het een van Huisgenoot se lesers Katie Marais op Facebook getroos.