Dit is ’n hartseer paar dae vir Reine Swart en haar familie nadat haar ouma, Gerti Pistorius (93), Sondagoggend ná ’n kort siekte in die hospitaal oorlede is.

Sy het net soos haar nefie, die veroordeelde lemnaeler Oscar Pistorius, hul geliefde ouma “Oumie” genoem.

Reine, wat verlede jaar een van die sterre in die branderry-fliek Die Pro was, het gister in die sosiale media ’n pragtige foto van haar en haar ouma gedeel. Die foto is in 2014 op Reine se troudag geneem.

“Vol mooi lewe Oumie Gerti . . . Skerp en pragtig op 93. Dankbaar. Lief. Mis Oumie,” het sy by die foto geskryf.

A photo posted by Reine Swart (@reineswart) on

Op die foto kan ’n mens ’n ouma sien wat straal van trots oor haar talentvolle kleindogter.

Reine het die afgelope paar maande ’n besige tyd op die silwerdoek gehad. Sy gaan volgende jaar weer op die groot skerm te sien wees in die rolprent O Vet.

Dit vertel die verhaal van vroue se stryd met hul gewig, ongeag wat die skaal sê.

Bertha le Roux, wat van 2002 tot 2014 Emma in 7de Laan gespeel het, vertolk die rol van ’n oorgewig joernalis wat ’n tydskrifstorie oor ’n gewigsverliesgroep doen. Reine se karakter is ’n fiksheidsinstrukteur by dié groep.

Sy het ook pas klaar verfilm aan die Van der Merwe-fliek waarin die blondekop by tye ’n swart kapsel dra. Die fliek handel oor die man agter die legendariese Van der Merwe-grappe (gespeel deur Rob van Vuuren) en Reine speel die rol van sy verloofde dogter.

A photo posted by Reine Swart (@reineswart) on

Gerti se roudiens word vandeesweek by Kleinkaap in Pretoria gehou. Reine het kort ná haar ouma se dood op Instagram nog ’n pragtige huldeblyk aan haar ouma gebring.

"Oumie Gerts – engel-klein-vroutjie, hart van goud - rus sag saam met Hom. Lief jou baie en ek sal probeer om nie te ‘korrel’ nie. Besonderse voorbeeld van elegansie, skoonheid en liefde. Tot ons weer mekaar sien, aangesig tot aangesig.”

Sy het die mooi woorde gedeel saam met ’n pragtige foto wat jare gelede van Gerti geneem is.

Suid-Afrikaanse wetgewing laat gevangenes toe om in uitsonderlike gevalle aansoek te doen dat die departement van korrektiewe dienste hulle na belangrike familiegeleenthede soos begrafnisse vergesel. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik of Oscar by sy ouma se begrafnis gaan wees.