Swaar reën en sterk wind word van Dinsdagaand tot Woensdag laatmiddag in die westelike deel van die land verwag. 

KLIK HIER om die storm se vordering regstreeks te volg.

Verbruikers moet die gepaste instandhoudingsmaatreëls nakom om te verseker hul voertuie is in ’n padwaardige toestand en herstelwerk aan hul huis is gedoen, sê Christelle Colman, uitvoerende hoof van Europ Assistance South Africa.

“Deur proaktief te wees en die nodige risikobestuur te doen, kan Suid-Afrikaners hul risiko verlaag vir skade aan hul huise en voertuie weens uiterste weerstoestande.” 

Christelle Colman gee wenke om te verseker dat jou besittings veilig is. Foto: Verskaf

Christelle het ’n risikobestuurskontrolelys verskaf vir diegene wat nie kanse wil waag tydens die storm nie. So kan jy voor die verwagte storm skade aan jou besittings verminder. 

Belangrike maatreëls vir bestuur in nat toestande:

Buitebandloopvlak

Een van die belangrikste maatreëls wat motoriste hierdie winter kan nakom, is die toestand van hul voertuig se bande. ’n Bandloopvlak onder die wettige perk van 1 mm of gelyk met die bandloopvlak-diepteaanduider, verhoog die waarskynlikheid van ’n ongeluk beduidend, veral in nat weer. Dit kan ook daartoe lei dat ’n versekeringseis verwerp word sou die versekeraar bepaal die ongeluk was die direkte gevolg van swak bandinstandhouding. 

Sigbaarheidsfaktor

Wanneer jy in nat, reënerige of mistige toestande bestuur, is goeie sigbaarheid allerbelangrik. Iets so eenvoudigs soos om verslete ruitveërlemme te vervang, kan die kanse drasties verminder dat ’n ongeluk gebeur. Motorligte moet ook te alle tye in ’n behoorlik werkende toestand wees. Maar die ligte is veral belangrik in die wintermaande, want dit is die enigste manier om ’n voertuig se sigbaarheid op donker, nat paaie te verhoog. 

Motorbatterykrag

’n Swak battery is een van die algemeenste oorsake van ’n voertuig wat in die winter onklaar raak. Weens die kouer weerstoestande verg ’n voertuig se enjin meer batterykrag om aan te skakel. Motoriste moet die krag van hul motorbattery gereeld nagaan en dit vervang sodat jy nie langs die pad gaan staan nie. 

Remme

Die remme is ’n uiters belangrike onderdeel van ’n motorvoertuig. Laat ’n motorwerktuigkundige die remme nagaan vir enige afslyting om te sorg dat die voertuig die beste kans het om in nat of ysige toestande tot stilstand te kom. Motoriste moet luister vir geluide van metaal op metaal of skreeugeluide wanneer hulle rem. En indien die remme lawaai, moet dit so gou moontlik vervang word. 

Noodbestuurderbystand

Suid-Afrikaners moet sorg dat hulle noodbestuurderbystand en noodnommers byderhand het in geval van ’n ongeluk of ’n motor wat onklaar raak. Die soort dienste word dalk reeds deur bestaande verskaffers gebied (byvoorbeeld ’n toegevoegdewaarde-voordeel by versekeringspolisse) of deur banke of mediese fondse. Verbruikers word aangeraai om hul polisse te hersien of hul verskaffers te kontak. 

Belangrike huisinstandhoudingsmaatreëls voor swaar reën:

Watertoevoer

Wat die voorkoming van waterskade betref is die belangrikste ding wat huiseienaars moet weet, die presiese ligging van afsluitkleppe vir die volgende: die hoofwatertoevoer, toestelle wat water gebruik (soos skottelgoedwassers, wasmasjiene en ysmakers), wasbakke en toilette. Dit sal sorg dat die watertoevoer in die geval van ’n lekkasie vinnig afgesluit kan word voor dit verdere skade veroorsaak en ’n loodgieter die skade kan kom herstel. 

Waterpype

Dit is noodsaaklik om gereelde inspeksies te doen vir enige lekplekke, skade of roes. Hoe gouer die probleme bespeur word, hoe gouer kan die huiseienaar ’n gelisensieerde loodgieter kontak om verdere skade te voorkom. 

Mure en vloere

Ondersoek fondasiemure en vloere vir krake wat water kan laat deurlek, veral as jy in ’n ou huis of ’n gebied met swak gronddreinering woon. 

Die dak

’n Huis se dak beskerm die inwoners en besittings teen die elemente. Gaan gereeld die dak na vir vermiste, verslete of gebreekte dakmateriaal wat water kan laat insypel en die dak se struktuur verswak. Ondersoek die dak ná ’n kwaai storm deeglik of kontak ’n gelisensieerde dakwerker vir verdere evaluering en herstelwerk. 

Geute

Maak geute en dreinpype skoon om te keer dat blare en ander afval dit verstop en dakrande beskadig. Verstopte geute kan water op die dak laat opdam, wat kan lei tot verrotting, lekplekke en moontlike klammigheid. Geute moet minstens twee keer per jaar ondersoek word. Die beste tyd om dit te doen is tydens die oorgangsmaande in die lente en herfs.

Noodhuisbystand

Sorg dat jy noodhuisbystand het en hou die noodnommers naby ingeval ’n ongeluk by die huis gebeur soos oorstroming of ’n boom wat op die dak val. Tydens storms kan die gebruik van ’n huisbystanddiens voordelig wees vir huiseienaars as hulle die een of ander noodgeval het. 


Save