Sê vaarwel aan die vingerhoed.

Dié speelstuk gaan nie meer deel wees van die nuwe weergawes van Monopoly nie, berig PBS News.

Hasbro Inc., wat die bordspeletjie vervaardig, het onlangs bekendgemaak die vingerhoed is wat Monopoly betref nou iets van die verlede. In 2013 is die strykyster met ’n kat vervang.

In Januarie het Hasbro Inc. ’n wêreldwye kompetisie bekendgestel en aanhangers van die speletjie gevra om te stem vir hul gunstelingspeelstukke. Dié stukke verteenwoordig elke speler op die bord.

Liefhebbers kon op die webtuiste votemonopoly.com gaan stem vir agt speelstukke wat hulle as deel van die volgende weergawe van die spel sou wou hê.

Jonathan Berkowits, senior adjunkbemarkingsbestuurder van Hasbro Gaming, het in ’n verklaring gesê mense kan vir agt nuwe stukke stem. “Nie eens die Skotse terriër is veilig nie!

“Net tyd sal leer of aanhangers die klassieke speelstukke sal behou, ’n paar gunstelinge sal kies of dalk ’n hele nuwe stel speelstukke sal kies.”

monopoly

Monopoly is in 1935 uitgereik en die karretjie, vingerhoed, skoen, keil en oorlogskip was onder die oorspronklike speelstukke. Die Skotse terriër en die kruiwa is in die 1950’s bygevoeg, is in die verklaring gesê.

Van die stukke waarvoor mense kon stem, sluit in ’n rubbereend, pikkewyn, sonbrille, emoji-tekens, ’n hutsmerk en ’n vis.

Die uitslag van die stemmery vir die nuwe speelstukke sal op 19 Maart bekendgemaak word. Die nuwe weergawe van die speletjie sal na verwagting vanaf Augustus beskikbaar wees.

Bron: PBS News