Die skoonheid lyk jare jonger as haar 51 jaar en het haar reputasie as sekssimbool gestand gedoen as ’n Bond-meisie in die onlangse rolprent Spectre.

Monica is bekend vir haar vol lippe, volmaakte gelaatstrekke en kurwes. En al lyk dit dalk of sy slaafs in die gim oefen, sê die ster niks kan verder van die waarheid wees nie. “Mense neem aan ek werk hard aan my lyf, maar ek doen dit eerlikwaar nie,” het sy aan die Skotse tydskrif No. 1 erken. “Ek is nie iemand wat soggens sesuur opstaan om te gaan gim nie. Ek is eenvoudig te lui. Die waarheid is ek hou van koeke en pasta, ’n glas wyn hier en daar en baie af en toe ’n sigaret. ”

"Ek is te lui vir oefen. Ek hou van koeke en pasta."

’n Groot ophef word oor Monica se voorkoms gemaak, maar sy verpes dit dat mense dink sy kry haar rolle danksy haar voorkoms.

Die Italiaanse aktrise het al in ’n wye verskeidenheid projekte ’n hoofrol gespeel, onder meer talle rolprente in haar geboorteland en Hollywood-lokettreffers soos die Matrix-fliekreeks.

Sy is al vir die gesogte Franse César-prys benoem en het ook al ’n Italiaanse Golden Globe agter haar naam. Maar steeds neem mense aan sy word aangestel op grond van haar skoonheid.

“As jy mooi is, stel mense in jou belang,” gee sy toe. “Ek weet skoonheid lok ’n sekere nuuskierigheid aan. Maar, soos Oscar Wilde gesê het, ‘Skoonheid is net vyf minute lank’ as jy niks anders het om daardie nuuskierigheid te onderhou nie. Ek dink nie ek sou hierdie soort loopbaan kon gemaak het as ek net mooi was nie. Regisseurs kies jou nie vir jou skoonheid nie, maar vir jou talent.”

© Cover Media