Ook moet hulle nog besluit hoe hulle op ’n gepaste wyse van hom afskeid kan neem.

[caption id="attachment_153386" align="alignnone" width="600"]Wayne saam met sy geliefdes. Foto: Facebook Wayne saam met sy geliefdes. Foto: Facebook[/caption]

Wayne het in dié laaste brief gevra hy wil nie ’n begrafnis hê nie, maar net veras word, waarna sy as op sy familie se plaas gestrooi moet word.

Kathy Victor (57), Wayne se eksvrou en die ma van sy kinders, het aan Huisgenoot vertel sy was nog op goeie voet met haar eksman en was baie na aan Alison (43), sy vrou van die afgelope vier jaar. Hy en Alison was altesaam 10 jaar saam. Sy vertel Alison is platgeslaan.

Wayne se dood het wêreldwyd opslae gemaak nadat hy Alison na bewering Woensdagoggend op die Gwala-Gwala-landgoed op die KwaZulu-Natalse kusdorpie Pennington gyselaar gehou en homself met ’n 9 mm-pistool in die kop geskiet het. Alison se oudste seun en sy vrou was ook in die huis. Hulle is beseer nie.

Alison se WhatsApp-status het sedert Donderdag gelui: “Mag God jou in sy liefdevolle arms omvou en jou vrede gee.”

Kathy beskryf Alison as ’n wonderlike mens en ondersteunende vrou. Sy vertel Wayne het ten tyde van sy dood by haar en haar man, Jonathan, op hul hoewe naby Johannesburg ingewoon. Sy en Wayne het saam drie kinders, Jeni Crator (34), Chane Todd (27) en Matthew (24).

Volgens Kathy het hulle glad nie sien kom dat Wayne sy eie lewe wou neem. “Soos jy weet, steek mense wat ’n selfdood beplan, dit baie goed vir hul geliefdes weg.”

“Wayne was nog besig om met opknappingswerk op die hoewe te help en hy en Matthew het hard geoefen om weer fiks te word. Maar Wayne het sy selfdood beplan aangesien hy ’n brief vir ons drie kinders agtergelaat het, wat verskriklik vir ons kinders is.”

Kathy vertel sy sal graag wil sien dat Wayne nie vir die laaste traumatiese oomblikke onthou sal word nie, maar vir die wonderlike mens wat hy was.

[caption id="attachment_153387" align="alignnone" width="600"]Wayne (Foto: Facebook) Wayne (Foto: Facebook)[/caption]

“Hy was ’n ongelooflik talentvolle en begaafde man met ’n baie goeie en vrygewige hart. Ek bid dat enigiemand wat oor ons liefste Wayne skryf net sal konsentreer op wat ’n wonderlike mens hy werklik was.”

Alison was Vrydag steeds in KwaZulu-Natal, maar sou die naweek Gauteng toe gaan. Kathy vertel hulle wil graag almal Sondag as ’n familie bymekaarkom om ’n gedenkdiens vir hom te beplan.

Wayne het as beroepsgholfspeler diep spore in dié sport getrap en menige bekende, onder wie Ernie Els en Gary Player, het aan dié groot gees hulde gebring.

Westner het die Suid-Afrikaanse Ope in 1988 en 1991 gewen. Hy het 14 beroepstitels agter sy naam gehad en in die Europese reeks geseëvier. In 1996 het hy saam met Ernie Els die Wêreldgholfbeker op Erinvale by Somerset-Wes gewen.

Sy loopbaan is in 1998 kortgeknip nadat hy sy enkelligamente op die Europese toer beseer het. Wayne het die bal op die 11de putjie van die Madeira-Ope se Pro-Am tot naby die water gedryf. Hy het op die houtwal op die rand van die water gestaan toe hy sy tweede hou wou slaan. Dit het onder hom meegegee en hy het sowat 2 m ver geval, berig Beeld.