Dr. Michael Mol van die TV-program Hello Doctor het onlangs getwiet oor die gesondheidsvoordele van borsvoeding en hoe dit enige vermeende risiko vir ’n baba van antidepressante oortref.

Hy verduidelik dat sy twiets gebaseer is op ’n studie wat vroeër vanjaar in Australië gedoen is en data van die Danish National Birth Cohort in Denemarke gebruik. Byna 400 vroue wat voor hul swangerskap antidepressante geneem het, is gebruik.

“In ’n neutedop het die navorsing getoon dat hierdie ma’s wat steeds hul antidepressante geneem het, beter daartoe in staat was om die aanbevole ses maande ná geboorte te borsvoed. Ons weet dit hou beduidende voordele in vir ma’s en pasgebore babas,” sê Michael.

Hy voeg by dat daar in vergelykende studies, soos die een wat by die American Academy of Pediatrics gedoen is, bevind is dat dit ook voordelig vir vroue kan wees om antidepressante te neem terwyl hulle borsvoed.

Wat beteken dit?

“Die navorsing sê eintlik daardie ma’s wat depressief is, gaan meer sukkel om suksesvol te borsvoed as dié wat hul medikasie aanhou gebruik,” sê hy.

Michael noem ook sekere medikasie is nie veilig vir babas nie en elke baba reageer anders op medikasie.

“Party babas (omdat hul liggaam nog ontwikkel) is vatbaarder vir samestellings van selektiewe serotonienheropname-inhibeerders (SSRI’s) as ander. Die gebruik van medikasie tydens borsvoeding is steeds ’n omstrede onderwerp en die navorsing stem nie altyd ooreen nie,” sê hy.

Meer oor die medikasie

Dr. Leigh Holloway, ook van Hello Doctor, sê party antidepressante, soos sertralien, sitalopram, paroksetien en venlaksafien, is beter vir gebruik tydens borsvoeding as ander en is in ’n kliniese omgewing al veilig gebruik.

Maar sy sê ma’s wat borsvoed, moet nooit litium gebruik nie.

“Depressie, en veral die nageboortelike soort, kan ’n ernstige, uitmergelende siekte wees met aansienlike risiko’s vir die ma en baba. Ons glo die voordele van depressie doeltreffend met antidepressante behandel veel groter is as die risiko’s van die baba aan lae vlakke medikasie in die borsmelk blootstel,” sê Leigh.

Sy voeg by dat as die medikasie gestaak word, is nageboortelike depressie ’n saak wat risiko’s vir die ma en haar baba inhou. “Nageboortelike depressie kom ook met die risiko van selfdood, meer as ander vorme van depressie. Daar is ook ’n kans dat die ma, as gevolg van wanhoop, nalatighheid, of selfs met opset, haar baba leed aandoen,” sê sy.

Tekens van nageboortelike depressie

Leigh raai ma’s aan om te let na enige moontlike tekens van negatiewe reaksies, insluitend (maar nie beperk tot):

  • Swak borsvoeding
  • Slaap swak
  • Prikkelbaarheid

“Dit is taamlik onspesifiek en kan ook deur ander faktore veroorsaak word,” voeg sy by. Michael noem ook dat ma’s hul dokters moet raadpleeg en hulle help verstaan wat hul opsies is.

Algemene voordele van borsvoed

Albei dokters sê daar is voordele aan borsvoed, soos:

  • Babas wat borsvoed het ’n laer risiko vir oorinfeksies, gastroïntestinale infeksies, diabetes, allergieë en vetsug.
  • Ma’s wat borsvoed, het ’n laer risiko vir bors- en eierstokkanker.
  • Dit versterk die band tussen ma en kind.
  • Dit kan ma’s ook teen nageboortelike depressie help beskerm.
  • Dit is bekostigbaar, altyd gereed en ten volle voedsaam.

Kry hier nog hulp

Klik hier vir nog inligting en om die Hello Doctor-webtuiste te besoek.

- Shandukani Mulaudzi