Wat presies is oorwas?

Oorwas bestaan uit veldeeltjies, langketting vetsure, cholesterol en alkohol. Dit is ietwat van ’n wonderwerker in die liggaam. Dit het beskermende eienskappe en beskerm die sensitiewe voering van die oorkanaal teen water. Dit werk baie soos mukus in die neus.

Wat gebeur wanneer oorwas verwyder word?

Die binne-oorkanaal word dan blootgestel aan skadelike bakterieë. Dit maak jou kind vatbaarder vir infeksies.

Hoekom jy eerder nie wattestokkies moet gebruik nie

Oorwas kom vanself uit die liggaam wanneer ons kou. Die beweging van die kakebeen maak die was los en dit kom stadig maar seker uit die oorkanaal. Dié klein stukkies was word dan afgewas wanneer ons bad of stort. Wattestokkies kan die was net verder die oorkanaal indwing en die oordrom beskadig. Dit blyk die spreekwoord is waar: Moet nooit iets kleiner as jou elmboog in jou oor druk nie.

Wanneer is te veel van ’n goeie ding sleg?

As jou kind met gehoorverlies, oorpyn of konstante oorinfeksies sukkel, is dit moontlik dat hulle te veel oorwas vervaardig. Jou kind sal dus ’n dokter moet spreek wat ’n diagnose kan maak en enige oormaat was kan verwyder. Dit is eenvoudig en kan in die dokter se spreekkamer gedoen word.

Wat van boererate?

Dit is maar beter om weg te bly van boererate omdat die binne-oor so sensitief is. Spreek ’n dokter as jy enige vrae of bekommernisse oor jou kind se ore of gehoor het.

- Lindsay de Freitas

Bronne: realclearscience.com, askdrsears.com, ncbi.nlm.nih.gov

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.