Die hertog en hertogin van Cambridge is onlangs gekritiseer omdat hulle sonder hul seun, prins George (7 maande), gaan vakansie hou het. As jy ’n ouer is, beteken dit dat jy nooit weer sonder jou kinders kan weggaan nie? Ons het by kenners gaan raad vra.

Die lewensafrigter Mia von Scha sê dis oukei dat ma’s soms ’n tydjie weg van hul kinders deurbring. “Ek dink alle ma’s moet soms ’n ruskans neem, en dit maak van jou ’n beter ma, nie ’n slegter een nie. Ons het ons eie behoeftes en belangstellings, en dit verdwyn nie wanneer ons ’n baba ryker word nie,” verduidelik sy. “ ’n Ma wat in haar eie behoeftes voorsien, is gelukkiger en meer ontspanne; sy sal dus beter in haar kind se behoeftes kan voorsien.”

Maar waarvoor moet ma’s kyk as hulle beplan om hul baba in iemand anders se sorg te laat? Mia gee hierdie wenke:

Vertrou jou instink

As jou natuurlike instink vir jou sê iets is nie reg nie, is dit heel moontlik nie. As jy die hele tyd gaan wonder of jou baba oukei is, is dit nie die moeite werd om weg te gaan nie.

Weeg die voor- en nadele

Maak ’n lys van jou behoeftes en jou baba s’n. Ma’s huiwer baiekeer om tyd weg van hul baba deur te bring. Hulle glo nie hulle is goed genoeg om geld op hulself te bestee of tyd alleen deur te bring nie. Hulle glo dit is selfsugtig of dat hulle ’n slegte ma is as hulle dit doen. Sodra jy besef dat jou hele gesin voordeel daaruit gaan trek, gaan dit makliker wees om so iets vir jouself  te doen.

Kry ’n oppasser wat jy kan vertrou

Prins George het tydens sy ouers se vakansie by sy grootouers Carole en Michael Middleton gebly; ’n gekwalifiseerde, bekwame oppasser was ook by. Maak seker die persoon wat na jou baba kyk, is iemand wat jy volkome vertrou. Maak seker die oppasser is opgelei in basiese noodhulp en KPR, dat hulle goeie verwysings het (volg altyd op met referente) en dat julle oor die weg kom. As jy nie die oppasser met jou huissleutels en alarmkode vertrou nie, moenie jou baba by hulle los nie!

Wees ’n voorbeeld

Leer om jouself lief te hê en te vertroetel. Jou baba leer meer uit jou dade as jou woorde.

- Katlego Mkhwanazi