Prof. Tim Noakes het onlangs geïmpliseer kinders kan ook baat vind by ’n dieet hoog in vet en laag in koolhidrate, maar kenners verskil.

“Eet minder pap en brood en eet meer dierorgane,” het hy blykbaar vandeesweek aan kinders in onderontwikkelde gebiede gesê, het The Star berig. Tim is die skrywer van The Real Meal Revolution, wat mense aanmoedig om ’n dieet hoog in vet en laag in koolhidrate te volg.

Maar prof. Nelia  Steyn, ’n navorsingspesialis by die Sentrum vir die Studie van Sosiale en Omgewingsdeterminante van Voeding, sê sy stem nie saam nie. “Die meeste van die studies oor die Banting-manier is nie langer as twee jaar uitgevoer nie en geeneen is op kinders uitgevoer nie, maar ander studies, wat toon dat te veel vetinname skadelik kan wees, is oor vyf tot 10 jaar of langer gedoen en het baie meer mense betrek.”

Prof. Steyn was ook betrokke in ’n studie deur die Universiteit Stellenbosch wat getoon het die Banting-metode is nie beter vir gewigsverlies as ’n tradisionele, gebalanseerde dieet nie. Die navorsers het bevind so ’n soort dieet skep die risiko dat die kind ’n voedingstoftekort gaan ontwikkel, en ook dat die kind nou en later in sy lewe ongesonde of ongebalanseerde eetgewoontes kan ontwikkel. “Onthou, wat jy nou jou kind voer, vestig hul eetgewoontes later in die lewe. Onlangse studies toon ’n mens moet selfs meer as vyf porsies vrugte en groente inneem om die optimale hoeveelheid voedingstowwe en anti-oksidante in te kry. Maar vrugte en groente bevat baie koolhidrate, so as jy koolhidrate inperk, impliseer dit jy gaan in ’n mate vrugte- en groente-inname beperk. Dit kan maklik by kinders tot ’n voedingstoftekort lei.”

Sy sê nog iets wat herhaaldelik bewys is, is die belang van vesel, waarvan daar baie min in vleis en vet is. “Lae veselinname word verbind met hardlywigheid, en ’n verlaging in inname kan selfs jou risiko vir kanker verhoog.”

Sy stel eerder voor jy hou by ’n gebalanseerde dieet wat alle kosgroepe insluit. “Absoluut, ja – moenie te veel brood eet nie, want dit bevat baie energie, maar moet dit nie heeltemal uitsny nie.”

- Dalena Theron

Ekstra bronne: mg.co.za; beeld.com