Moet kinders kafeïen inkry?

Dr. Jivan sê die newe-effekte verskil nie veel tussen grootmense en kinders nie, maar in kinders kan dit erger wees. Kafeïen beïnvloed hoofsaaklik slaap; groot hoeveelhede daarvan veroorsaak ’n verlies aan slaap. Dit kan ook kopseer, hartkloppings, rusteloosheid en konsentrasieprobleme veroorsaak. Langtermyngebruik kan lei tot verhoogde bloeddruk, tandbederf, angs en selfs vetsug. Dit is dus nie raadsaam om jong kinders drankies met kafeïen te gee nie, en dr. Jivan waarsku dat hulle sover moontlik nie aan sulke drankies blootgestel moet word nie.

Wanneer kan kinders kafeïen begin drink en hoeveel is aanvaarbaar?

Daar is nie ’n spesifieke ouderdom waarop kinders dit kan of moet begin drink nie, sê dr. Jivan. “Dit moet verkieslik so lank moontlik uitgestel word, veral met voorskoolse kinders. Een blikkie koeldrank is die meeste wat ’n kind per dag kan inkry.”

Help jou kinders ophou of minder kafeïen drink

Dit is belangrik om met ouer kinders te praat oor die gevare van kafeïen. Verduidelik die newe-effekte aan hulle en bied aan om hulle te help afskaal. Volgens dr. Jivan is dit ook belangrik om jou kind se toegang tot kafeïenryke drankies te beperk as hulle baie daarvan drink. “As hulle reeds sulke drankies drink, moet jy bewus wees van hoeveel hulle daarvan inkry. As jou kind drie blikkies kafeïenryke koeldrank per dag drink, beperk hulle tot een. Jy kan ook ’n beloningstelsel inbring: As jou kind ’n hele week lank nie kafeïen inneem nie, kry hulle ’n ekstra uur rekenaartyd of kan ’n uur later as gewoonlik gaan slaap. Jy moet ook nie kafeïenryke drankies in die huis aanhou nie.”

Ander alternatiewe

Dit is makliker om alternatiewe vir kafeïenryke drankies aan te bied as om geen drankies te hê nie. Dr. Jivan stel water in ’n drukbottel, gegeurde water en suiwer vrugtesap voor. Kafeïenvrye vitamien- en energiedrankies bied ook hope energie vir aktiewe kinders. As jou kind gereeld koffie of tee drink, kan jy dit vervang met kruietee.

- Londiwe Dlomo