Die pediater dr. Iqbal Karbanee van Kaapstad sê dokters moet in die algemeen minder antibiotika voorskryf. Wanneer hulle dit wel doen, moet dit net ná deeglike oorweging wees. “Ouers moet op hul beurt ook nie kitsoplossings verwag nie; hulle moet ook op nie antibiotika aandring nie. Infeksies moet hul gang gaan en in die proses versterk dit die kind se immuunstelsel.” Ouers moet hul denkwyse verander en antibiotika as ’n laaste uitweg sien wanneer hul kind siek is, voeg hy by.

Maar as antibiotika absoluut nodig is, is die sleutel om seker te maar jy en jou kind gebruik dit veilig. Hier is ’n paar wenke:

Voltooi die kursus

Jy het dit seker al 1 000 keer gehoor – voltooi altyd ’n kursus antibiotika. Ongelukkig is ma’s so verlig dat hul siek kind verbetering toon dat hulle eenvoudig die medikasie stop. “Onvoltooide kursusse dra by tot die verskyning van weerstand, en dit ondermyn die doeltreffendheid van antibiotika-gebruik,” sê dr. Karbanee. Eenvoudig gestel beteken dit wanneer kinders nie die kursus voltooi nie, kom infeksies sterker terug en maak die volgende ronde antibiotika minder effektief.

Moenie hergebruik nie

Mediese sorg en medikasie is duur, en dikwels dink ma’s dit is ’n slim plan om antibiotika te hou vir wanneer dieselfde siekte opduik. Die opkoms van die internet het dit net vererger, want ma’s vors die kind se simptome na en behandel dit met wat ook al onder in die yskas of noodhulpkissie lê. Dit is nooit ’n goeie idee nie en is baie gevaarlik!

Antibiotika kan nie alle infeksies behandel nie

Antibiotika is net effektief vir die behandeling van bakteriële infeksies, nie virusinfeksies nie. As jou dokter jou nie sê watter soort jou kind het nie, moet jy vra. Antibiotika lyk na ’n kitsoplossing sodat jy kan aangaan met jou lewe. Maar as dit verkeerd gebruik word of oorvoorgeskryf word, kan dit jou kind se immuunstelsel aansienlik verswak. As jy nie seker is of jou kind werklik antibiotika nodig het nie, dring daarop aan dat jou dokter verduidelik hoekom hulle dit voorskryf. Kry ’n tweede mening as jy steeds onseker is – jou kind se gesondheid kom eerste.

- Lindsay de Freitas

Ekstra bronne: webmd.com, kidshealth.org

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.