Het jy, of weet jy van enigiemand wat Naspers-aandele het? Dan is hierdie van die allergrootste belang.

Veral met die ekonomie wat deesdae almal knyp dat die trane loop, kan die belofte van ’n beter opbrengs op ’n belegging vir sommige mense onweerstaanbaar wees. Boonop beloof die booswigte dat hulle die verhandeling van jou aandele net soveel makliker sal maak.

Al wat jy hoef te doen, is om jou swaarverdiende geld wat jy met moeite afgeknyp het om te belê, in kontant te omskep en in ’n derdeparty-rekening te stort. Die belofte wat gemaak word, is dat jy binne ’n uur tot 100% groei op jou belegging sal ontvang.

Maar o wee. As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit mos so! Al waarvan jy 100% seker kan wees as jy vir hierdie slenter val, is dat jy nie ’n enkele sent van daardie geld weer sal sien nie. Naspers maan die publiek om baie versigtig te wees met oproepe, teksboodskappe en e-posse wat vanaf onbekende bronne ontvang word. Des te meer as enige van hierdie boodskappe met geld te make het. Moenie dink dis dom om vir enige van dié slenters te val nie. Die skelms is so uitgeslape dat alles waarmee hulle jou nader soos die ware Jakob lyk. Die maatskappy-logo's en -baniere lyk presies net soos die maatskappy of bank s'n waarmee jy vertroud is. Maar dis so maklik om dit van die internet te bekom en met ’n bietjie hier en daar se gevroetel met internetskakels, kan jy maklik geflous word.

Hoe kan jy jouself teen slenters van dié aard beskerm?

1. Ignoreer e-posse, teksboodskappe of oproepe rondom jou persoonlike sake, al mag dit amptelik voorkom.

2. Keer jouself voordat jy op skakels en aanhangsels klik wat jy per e-pos ontvang. Volg eerder regstreeks met die persoon, maatskappy of bank op wat jy wel ken, om seker te maak dat dit wel ’n outentieke e-pos is.

3. Banke veral doen moeite om op hul webblaaie te waarsku teen moontlike bedrog of slenterstreke wat die ronde doen. Spandeer liewers ’n minuut langer op daardie blad en maak seker jy weet waarteen jy gewaarsku word.

4. Internetslenters word ontwikkel teen die spoed van lig. Wees dus deurentyd op jou hoede.

Bron: fin24.com