ERVAAR DIE ASEMROWENDE LANDSKAPPE EN

LEWENSGROOTTE-DIERE VAN DIE YSTYDPERK

IN SANDTON SE KONFERENSIESENTRUM

ice1

Die uitstalling kombineer jare se wetenskaplike navorsing met interessanthede oor die massiewe diere wat lank, lank gelede reeds uitgesterf het, en sal oud en jonk dié winter in die Sandton se konferensiesentrum vermaak en inlig. Die Ice Age-uitstalling, wat deur die skeppers van die wêreldbekende Days of the Dinosaur-uitstalling na Suid-Afrikaanse gehore gebring word, is ontwerp met die spesifieke doel om respek aan wetenskaplike navorsing te betoon, en terselfdertyd te sorg vir ’n vermaaklike uitstappie vir die hele gesin. Die uitstalling bied besoekers die kans om die jongste tegnologie in robotika en animatroniese diere wat volgens skaal gebou is, te ervaar.

'Die uitstalling sal 45 bewegende, lewensgrootte-diere bevat.'

Die uitstalling sal 45 bewegende, lewensgrootte-diere bevat – insluitend die gewilde reusagtige mammoet – asook 11 modelle in ’n interaktiewe deel wat beslis jonger besoekers gaan vermaak.

Die uitstalling dokumenteer die 27ste Ystydperk en gee besoekers ’n kykie na die betowerende wêreld waar merkwaardige diere, soos die mammoet, sabeltandtier en reuse luidier, duisende jare gelede geleef het. Ystydperk ’n Ystydperk ontstaan wanneer die aarde se oppervlak en atmosferiese temperatuur oor ’n lang tydperk daal, wat tot die vorming van ysplate en berggletsers lei. Die laaste Ystydperk het sowat 20 000 jaar gelede plaasgevind toe die wêreld gemiddeld 5 °C kouer en in sommige dele tot 22 °C kouer was as wat dit vandag is.

'Elke deel van die uitstalling is versigtig ontwerp.'

“Elke deel van die uitstalling is versigtig ontwerp om ’n boeiende deel van die aarde se geskiedenis aan jonger gehore te wys,” sê Edmund Beukes, bemarkingsbestuurder van Media24 Leefstyl, wat die uitstalling na Suid-Afrika bring.

“Ons het nou saamgewerk met paleontoloë en ’n beskrywing saamgestel van elke dier, asook ’n verduideliking van hul gewoontes, die omgewing waarin hulle woon, en hoe hul oorskot ontdek is.”

Deure open om 09:00 op Saterdag 20 Junie 2015 vir die publiek en die uitstalling sal net sewe weke oop wees. Besoekers word aangemoedig om vroegtydig kaartjies te bespreek om teleurstelling te voorkom. Bespreek deur Computicket by www.computicket.com.

Skoolgroepe wat ’n uitstappie buite die winterskoolvakansie wil bespreek, kan Leandri van Wyk by iceage@megatrav.co.za kontak.

Besoek www.theiceage.co.za vir nog inligting oor die Ice Age-uitstalling se plek, datum, tye en reispakkette.

  • Datum: Saterdag 20 Junie – Saterdag 8 Augustus 2015
  • Plek: Sandton-konferensiesentrum Maudestraat 161, Sandton

Kaartjies

  • Volwassenes: R145 per persoon
  • Kinders (18 maande - 8 jaar): R99 per kind
  • Kinders (jonger as 18 maande of korter as ’n luidier - 83 cm): GRATIS
  • Families (2 volwassenes en 2 kinders): R435
  • Kaartjieverkope: In die konferensiesentrum of aanlyn by Computicket
  • Uitstallingstye: Maandag – Vrydag, 09:00 tot 19:00 & Saterdag – Sondag: 09:00 tot 20:00