Sewe van die agt was buitelanders: twee Australiërs, ’n Brasiliër, Filippyn en vier Nigeriërs.

Dié teregstellings het wêreldwye kritiek laat opklink teen Indonesië se streng dwelmwette. In geen van die lande waar die sewe vandaan kom sou hulle die doodstraf ontvang het vir hulle oortredings nie.

Die meeste lande sal dwelmsmokkelaars liewer ’n lang tronkstraf oplê, selfs lande waar mense vir ander oortredings tereggestel word.

Nietemin is daar verbasend genoeg 31 lande buiten Indonesië waar ’n mens liefs nie by dwelms betrokke moet raak nie, want hier kan jy ook die doodstraf opgelê word.

China stel die meeste mense tereg vir dwelmoortredings. Volgens The Economist het China sedert 2007 al derduisende mense tereggestel spesifiek weens dwelmverwante oortredings. Die presiese getal is onduidelik omdat China dit nie bekendmaak nie.

Buiten China stel lande soos Iran, Saoedi-Arabië, Viëtnam, Maleisië en Singapoer gereeld mense tereg weens dwelmverwante oortredinge.

Taiwan waarsku besoekers op die internasionale lughawe in Taipei dat enige vermeende dwelmsmokkelaar moet ligloop: hier sal jou kop waai as hulle jou vang.

Veertien van die 31 lande het wetgewing ingevolge waarvan die doodstraf opgelê kan word vir dwelmoortredings, maar in die praktyk word dit nooit toegepas nie. Dit sluit Amerika en Kuba in.

Ander lande, soos Irak, Libië, Noord-Korea, Soedan, Suid-Soedan en Sirië, het al mense tereggestel wat by dwelmsmokkelary betrokke was, maar dit gebeur selde.

Die wyse waarop die doodstraf in hierdie lande uitgevoer word, wissel van ’n vuurpeloton en onthoofding tot hang.

Bronne: The Economist; Wikipedia