Eunice Sibiya, Eerste Nasionale Bank se hoof van verbruikersopleiding, sê: “Die eerste jaar van jou baba se lewe het sekere koste-implikasies, maar tussen een- en driejarige ouderdom bring jou kleuter hul eie unieke groep onkoste. Hulle is meer sosiaal, woon verjaardagpartytjies by en woon dalk ’n speelskool of naskoolsentrum by. Die beste ding wat jy vir hulle kan doen, is om finansieel voorberei te wees. Hier is Eunice se topwenke:

Die amper-grootskool

Baie ouers besluit om hul kinders by ’n kindersorgsentrum in te skryf omdat hul sosiale vaardighede meer gevestig raak, en baie stem saam om so te leer is goed vir hul ontwikkeling. Of jy op ’n crèche of speelgroep besluit, sê Eunice jy moet navorsing doen.

“Jy moet vra of jy en jou kleuter waarde vir jou geld kry,” sê Eunice. “Verskillende sentrums bied verskillende dienste. Soek jy dagsorg, ’n crèche of ’n speelgroep? Party crèche’e vra dat jy doeke en toiletware saambring, terwyl ander dit by die prys insluit. Besluit wat jy wil hê en vra of jy en jou kleuter ’n toetslopie kan neem.”

As jy ’n kindersorgsentrum kies, laat jou kind ’n week lank as toetslopie bywoon. Vind ook uit of jou werkgewer dié diens bied. Daar is gewoonlik ook afslag vir personeel, en jy hoef nie jou roete aan te pas nie. Jy gaan ook deur die dag jou kleintjie kan sien.

Eunice sê ook sodra jy op ’n dagsorg of speelgroep – of albei – besluit het, moet jy hierdie uitgawe by jou begroting byvoeg.

Sy bied ook nog wenke: “Vind uit of jou kind se skool enige soort afslag bied vir vroeë betaling. Dit is ’n goeie idee om jou bonus te gebruik vir jou kind se skoolgeld; jy kry dalk afslag.”

Sy voeg ook by party skole gee afslag as jy meer as een kind daar inskryf.

Verjaardagpartytjies

Sodra jou kind met ander begin omgaan, gaan jy waarskynlik amper elke naweek ’n verjaardagpartytjie moet bywoon. Jy het ook jou eie kind s’n om te beplan.

“Probeer geskenke vir ander kinders koop soos legkaarte, speelklei of borrels. Jy kan ’n verskeidenheid hiervan in grootmaat koop vir seuns of meisies se partytjies,” sê Eunice.

Dit gaan jou begroting ’n blaaskans gee sodat jy nie elke maand geskenke hoef te koop nie.

“Probeer om jou eie kind se partytjie by jou huis te hou en vra familielede vir hulp – dit gaan baie geld bespaar.

“Jy kan dit verder voer en vriende en familie vra om kontant in ’n spaarrekening te deponeer  pleks van geskenke koop. Dit sal jou verbaas hoe hierdie klein bedraggies oor die jare opbou nie. Volwassenes gaan ook die idee verwelkom; dit is ’n eenvoudiger opsie as geskenke koop,” sê Eunice.

Mediese uitgawes

’n Ander bekommernis wanneer jou kind ’n crèche bywoon, is die blootstelling aan kieme.

Hul immuunstelsel is dalk nog kwesbaar; trek hulle in die winter lekker knus aan en gee hulle immuunversterkende medikasie as jy wil.

Volgens Eunice sal dit ook ’n goeie idee wees om seker te maak watter soort mediese fonds jou gesin het. Sy stel voor jy bel hulle en revalueer dalk die plan wat julle nou het.

“Soos jou kind groei, verander hul behoeftes en jou begroting moet ooreenkomstig aanpas. Die beste manier om dit te hanteer is om finansieel verantwoordelik te wees en jou begroting op ’n gereelde basis te revalueer,” sluit Eunice af.