“Ons het albei dinge gehad wat ons in ons verhouding teruggehou het. Ons het albei moeilike verhoudings gehad,” het Oscar tydens sy moordverhoor getuig. Barry Roux het hom in sy getuienis gelei.

Oscar het getuig hy het “aanvanklik meer van haar gehou” as wat sy van hom gehou het.

Hul verhouding het in Desember 2012 en Januarie 2013 ernstig begin raak nadat “ons vir mekaar begin omgee het”.

“Ons het ’n toekoms saam begin sien.”

Oscar staan tereg op aanklag van moord nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis doodgeskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Oscar het ook getuig hy en Reeva was albei lief vir motors.

“Sy was ’n motorliefhebber. Dit was ’n gedeelde belangstelling.”

- Sapa