Die gemis na hul ma raak erg vir die Brink-kinders.

[caption id="attachment_151155" align="alignnone" width="605"]Die Brink-gesin. Foto: Verskaf Die Brink-gesin. Foto: Verskaf[/caption]

So sê Dirk Hermann, gesinswoordvoerder vir Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en sy vrou, Lise.

Danie en Lise het twee van hul vyf kinders in ’n tragiese ongeluk op Versoeningsdag verloor.

Die gesin was op pad na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap toe die ongeluk die Vrydagoggend by Theunissen in die Vrystaat gebeur. ’n Band van die gesin se Toyota Land Cruiser het glo gebars waarna die voertuig die pad verlaat en gerol het.

Lise is ook ernstig beseer. Sy is sedert die ongeluk in ’n geïnduseerde koma in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion.

Buiten dat haar linkerbeen onder die knie geamputeer moes word weens kompartement-sindroom wat sy ná die ongeluk opgedoen het, het sy ook ’n seldsame soort longontsteking opgedoen. Dit word met medikasie uit Frankryk behandel.

Dit het ook daartoe gelei dat sy tot dusver nog nie noodsaaklike operasies aan haar rug en gesig kon ondergaan nie.

Johann (9), die Brinks se middelseun, is ook in die ongeluk beseer. Hy is kort ná Kersfees weer operasieteater toe, waar ’n abses aan sy kop onder narkose gedreineer is.

Mieke (15) en Daniël (2) was ongedeerd.

Dirk sê onder die omstandighede gaan dit goed met die kinders, maar daar is 'n groot leemte in hul lewe.

“Die kinders mis hul ma," sê hy. "Hul ma is nie daar nie.

“Daardie emosionele trauma om nie hul ma by hulle te hê nie, beleef hulle beslis.”

Volgens die Facebook-blad Nuus oor Danie Brink en Gesin vaar Lise goed met die asemhaling. Die asemhalingsmasjien waaraan sy gekoppel is, “verskaf net die minimum hulp”. Sy het wel ’n drukseer aan die agterkant van haar kop ontwikkel wat binnekort in die teater skoongemaak moet word.

Danie vertel daagliks op dié blad hoe dit met Lise gaan.

Dirk sê sy toon elke dag tekens van verbetering. Die mediese span wat na haar omsien, is besig om haar stadig uit die geïnduseerde koma wakker te maak. Sy het al haar oë oopgemaak, maar dit was nie gefokus nie. Sy het ook haar kop geknik wanneer mense met haar praat en het gereageer toe Danie haar gunstelingsanger, David Wesley, se liedjies vir haar speel.

“Lise weet nog nie wat om haar aangaan nie,” sê Dirk.

“Hoewel dit al beter met haar gaan, moet daar geen twyfel wees oor hoe ernstig siek sy is nie.

“Elke tree wat sy gee, is ’n tree vorentoe, maar ’n moeilike pad lê vir haar voor.”

Hoewel eers besluit is om nie ’n begrafnis te hou vir André (13) en Rachel (8) tot Lise dit kan bywoon nie, is wel besluit om ’n gedenkdiens te hou vir die twee. Die datum van die diens sal volgende week bekendgemaak word, sê Dirk. Dit sal na alle waarskynlikheid binne die volgende twee weke plaasvind.