Dit is reeds te laat om hul babaseun New York toe te neem vir ’n eksperimentele behandeling, maar hulle wil hom nou huis toe vat.

Charlie se lewensondersteunende masjiene sal binne die volgende paar dae afgeskakel word nadat sy ouers besluit het om hul hofstryd te laat vaar vir die reg om hom vir eksperimentele terapie Amerika toe te neem.

Chris Gard en Connie Yates, van Engeland, het die stryd gewonne gegee om hul kritieke siek seuntjie na New York te neem omdat hulle glo dit is te laat vir die eksperimentele nukleosied-terapie om te werk.

Chris sê dit beteken sy “liefste, pragtige, onskuldige seuntjie” sal nie bly leef om sy eerste verjaardag op 4 Augustus te sien nie.

Charlie het mitochondriale DNS-uitputtingsindroom, ’n seldsame genetiese toestand wat spierverswakking en breinskade veroorsaak. Hy kan nie sy arms of bene beweeg of sy kop lig nie.

Ná ’n vyf maande lange hofstryd het die ouers se prokureur Maandag in ’n emosionele sitting die hof verstom met die aankondiging.

“Indien Charlie vroeër die behandeling gekry het, het hy die potensiaal gehad om ’n normale, gesonde seuntjie te wees,” sê Connie. “Die laaste 11, bykans 12 maande was die beste, slegste en mees lewensveranderende maande van ons lewe, maar Charlie is Charlie, en ons sou hom vir niks op aarde wou verruil nie. Ons het alles vir hom gedoen. Ons gaan nou die moeilikste ding ooit doen, en dit is om ons pragtige klein Charlie te laat gaan.”

Maar die ouers se hofstryd het nou ’n ander kinkel gekry.

Grant Armstrong, wat Chris en Connie verteenwoordig, het gesê hulle keer terug hof toe vir die “moeilikste, emosionele deel . . . om die omstandighede te bepaal waaronder Charlie sal sterf. Die ouers se laaste wens is om Charlie huis toe te neem.

“Ons sukkel met die hospitaal om die ouers se wens toe te staan om tyd – waarskynlik ’n baie kort tydjie – saam met hom te hê voor die laaste hoofstuk van Charlie se kort lewe aanbreek.”

Katie Gollop, die prokureur wat die Great Ormond Street-hospitaal (GOSH) verteenwoordig, waar Charlie sedert Oktober behandel word, het gesê die Gard-egpaar se wens sal toegestaan word “indien dit prakties, moontlik, veilig, en in Charlie se beste belang is sodat hy geen skade ly nie”.

Volgens The Guardian het prof. Michio Hirano, ’n neuroloog van New York wat die weg gebaan het vir eksperimentele terapie vir kinders met dieselfde toestand as Charlie, vir sy ouers gesê daar was ’n kans dat hy hul seun kon help.

Pa Chris het in Maandag se verhoor op emosionele wyse van hom afskeid geneem.

“Mamma en pappa het jou so lief, Charlie. Ons het nog altyd en sal altyd en ons is jammer dat ons jou nie kon red nie. Ons is dit nie toegelaat nie. Soete drome, my baba. Slaap sag, ons pragtige klein seuntjie.”

Bronne: BBC, The Guardian, Telegraph