Sandra Bullock sê moederskap het haar minder selfsugtig gemaak.

Die Gravity-aktrise het Louis (3) in 2010 aangeneem. Sy dink haar belangrikste werk is om ’n ma te wees en erken dit beïnvloed die soort rolle wat sy aanvaar.

Sy het gesê: “Ek kan nie meer selfsugtig wees en rondreis soos ek wil nie, want ek moet ’n seuntjie saamneem.”

Die Oscar-wenner het Dinsdag op die perskonferensie vir haar nuwe rolprent aan People.com gesê sy het net die rol in die nuwe ruimtefliek aanvaar omdat die vervaardigers dit ook vir Louis ’n wonderlike ervaring gemaak het.

Sy vertel sy het gesê: “Maak seker ek is nie iewers waar ek nie aandag skenk nie omdat ek bekommerd is oor waar Louis is, of hy dit geniet en of dit ’n goeie lewenservaring is.

“Die regisseur, David Heyman, het het die agterkant van ’n verhoog in die reënerige Londen in ’n wonderwêreld vir ’n 1,5-jarige verander. Alles het skerms gehad! Mense wou wee wat dit is. En ek het geantwoord: Dis om ’n kind se kop te beskerm! Elke liewe dingetjie!”