Joost van der Westhuizen het die Getrouheidsfonds vir Prokureurs al drie keer in die hoogste hof geklop om die honderdduisende rande terug te kry wat sy eertydse prokureur, Robert Klinkenberg, in alle waarskynlikheid by hom gesteel het. Maar steeds het hy nog nie ’n sent van die fonds ontvang nie.

Joost Fathers day

Die regsgeding om die geld – R385 665 wat hy aan sy voormalige prokureur en sakevriend Robert Klinkenberg van Roodepoort toevertrou het – van die Getrouheidsfonds te verhaal, het reeds vroeg vanjaar in die hooggeregshof in Pretoria begin. Die fonds het sy eis elke keer teengestaan.

Lees ook: Regter bevind Joost van der Westhuizen-aansoek is ‘saak van lewe en dood’

Huisgenoot het vroeër berig Robert is in Desember 2015 vermoor. Die hof het later bevind hy het die geld in alle waarskynlik by Joost gesteel. Joost het aangevoer hy benodig dié geld dringend vir sy enorme mediese onkoste.

Al het die appèlhof in Bloemfontein verlede Maandag die fonds se aansoek om appèl teen die uitspraak van die hand gewys, is die geld steeds nie in Joost se rekening nie.

“Die hartseerste is ek gaan steeds moet wag. Al het ek al drie keer gewen, baklei die Getrouheidsfonds steeds. Ek wag steeds. Ek sal eers verheug wees as die geld in my rekening is,” het Joost per e-pos met behulp van sy EyeTracker-rekenaar aan Huisgenoot geskryf.

Lees ook: Joost van der Westhuizen se prokureur vermoor

Huisgenoot het sedert Maandag menigmaal deur e-posse en telefoonoproepe vergeefs probeer om kommentaar van Jerome Losper, die fonds se hoof van eise, te kry.

Regter Lester Adams het in September reeds beslis Joost se aansoek ís dringend en ’n “saak van lewe en dood”.

Hy het daarna beslis die fonds moet die geld aan hom betaal. Nadat dié regter die fonds se aansoek om verlof om appèl van die hand gewys het, het hy verder gelas dat die geld onmiddelik uitbetaal moet word. Maar die geld is nie uitbetaal nie, want die fonds het eers in Bloemfontein aansoek gedoen om verlof tot appèl. Ook dié poging was onsuksesvol.

Ferdi Hartzenberg, Joost se prokureur, het aangedui die fonds wil dit nie daar laat nie en voel daar is steeds gronde om die eis teen te staan.

Lees ook: Waarom het Joost so dringend die gelde nodig?

Ferdi het gesê hulle sal dit nie toelaat nie en dis nou die einde van die pad. Die geld is reeds vroeër in Ferdi se trustrekening inbetaal met die voorwaarde dat dit aan Joost uitbetaal kan word as die petisie onsuksesvol is.

As die fonds nie nou ’n hofbevel kry om die geld te vries nie, sal dit Maandag aan Joost uitbetaal word.

Intussen gaan Joost se gelukkige nommerplaat – nou net ’n verre herinnering aan sy gloriedae as skrumskakel en kaptein in die Boktrui – vandeesweek opgeveil word.

Rapport het berig die nommerplaat sal hopelik effens verligting bring van die enorme berg van sy mediese onkostes.

Maar Joost vertel al het hy twee dekades lank die land in sy bakkie met die nommerplaat 9 GP (die nommer van ’n skrumskakel op die rugbyveld) platgery en dit in die verlede baie vir hom beteken het, is hy nou gereed om dit te laat gaan.

“Vir my is dit nou net ’n materiële ding,” sê hy. Hy het vrede met wat hy daarvoor kry. “Dit is tyd om dit te laat gaan,” vertel Joost, wat in ’n rolstoel gekluister is en al lankal nie meer self meer kan bestuur nie.

Die afslaers Stephan Welz het aan Joost se broer, Pieter, gesê hulle vertrou hulle sal na verwagting minstens R100 000 vir dié plaat kan kry, maar hopelik is daar ’n aanhanger wat bereid sal wees om bietjie meer daarvoor op te dok, het Rapport berig.

Joost vertel hy het destyds R1 500 vir dié nommerplaat betaal en het dit as ’n goeie belegging gesien.