Die sogenaamde Modimolle-monster Johan Kotzé is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof twee keer lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Conrad Bonnette en die verkragting van sy ma, Ina.

Kotzé is ook 25 jaar tronkstraf opgelê vir die ontvoering en aanranding van Bonnette.

Sy medebeskuldigdes Andries Sithole, Pieta Mohlake en Sello Mphaka is ook elk lewenslange tronkstraf opgelê vir hul aandeel in die misdaad.

Regter Bert Bam het in sy uitspraak gesê die verswarende faktore in die saak is oorweldigend.

Ina Bonnette was in trane terwyl Bam die vonnis uitgelees het.

Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en gestremdes, sowel as adv. Glynnis Breytenbach het die hofverrigtinge bygewoon.

Kotzé is Maandag in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind op aanklag van moord.

Regter Bert Bam het hom en een van sy medebeskuldigdes, Andries Sithole, skuldig bevind op aanklag dat hulle Ina Bonnette se seun, Conrad (19), doodgeskiet het.

Die ander twee medebeskuldigdes is vrygespreek op dié aanklag

Kotzé, Andries Sithole, Pieta Mohlake en Sello Mphaka is almal skuldig bevind op aanklag van ontvoering en vier aanklagte wat verband hou met die verkragting van Bonnette.

"Dit is duidelik dat julle al vier skuldig is," het Bam gesê.

Kotzé en sy medebeskuldigdes is ook skuldig bevind op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, in plaas van die meer ernstige aanklag van poging tot moord.

Bonnette is op 3 Januarie 2012 in Kotzé se huis in Modimolle verkrag. Haar seun is dieselfde dag in die huis doodgeskiet.

Bam het gesê dit is duidelik dat die aanval vooraf beplan is. Hy het gesê daar was voor die misdaad verskeie oproepe tussen Kotzé en Sithole. Die regter het verder gesê Conrad is na die huis gelok op die dag wat hy vermoor is.

- Nuus24

EKSKLUSIEWE VIDEO: 'Modimolle Monster' se troue