’n Nuwe boek oor Johan Kotzé, die man wat die wêreld met afgryse vervul het nadat hy ’n bendeverkragting gereël het op sy vrou, Ina Bonnette, haar seksueel gemartel en haar seun vermoor het, is pas uitgereik.

DIE_MODIMOLLE_MONSTER_AFR_COV

Modimolle Monster is uit die pen van die eNCA-joernalis Karyn Maughan en die vryskut-joernalis Shawn Swingler. Die boek is ’n chronologiese samevatting van die aanval op 3 Januarie 2012 wat die wêreld geskok het.

Hier volg ’n uittreksel uit hoofstuk 5, Johan Kotzé se getuienis.

Kotzé se familie en sy tienerdogter, Jo-marié, het vir hom geglimlag en gewaai vanuit die openbare galery. Hy was oënskynlik so opgewonde soos ’n sesjarige wat ’n solo sou sing in die skoolkonsert. Dit was nou sý beurt in die kollig, en hy sou die kans ten volle benut.

Die boek bevat nie nuwe inligting nie, maar dis veral hoofstuk 5, in Ina se woorde self geskryf, wat 'n mens aangryp.

Ina was 'n geskeide vrou toe Johan haar nommer by 'n vriend gekry en haar op 9 Augustus 2009 gebel het. Hy het haar beïndruk met sy sjarme en vir 'n maand het hulle vir ure oor die foon gesels.

"Ons het gepraat oor wat ek uit 'n verhouding en huwelik verwag. Ek het hom vertel: liefde, respek en eerlikheid. Ek het werklik geglo hy voel dieselfde. Ek het regtig gevoel ek word nog 'n kans op liefde gegee," skryf Ina.

Hul eerste ontmoeting was 'n maand later by 'n vulstasie in Pretoria, vertel sy in die boek. "Ek was baie gespanne want dit was die eerste keer wat Johan tyd saam met my sou deurbring en my huis sou sien. Maar hy was baie sjarmant en dit was maklik om by hom te wees. Ek het geen idee gehad dat dit toneelspel was nie."

Na daardie naweek het hy elke naweek van Bloemfontein deurgery en kom kuier. Gedurende sy hofmakery het hy Ina met uitspattige vakansie, duur geskenke en "natuurlik mooi klere" bederf, vertel sy aan die leser.

'n Paar maande na hul ontmoeting het hulle verloof geraak en sewe maande later, op 'n reënerige 23 Oktober 2010, het haar "stormagtige huwelik" begin.

In die wittebroodskamer het Kotzé die reëls begin neerlê. "As jy, Ina, doen wat ek sê sal ons huwelik 'n sukses wees."

Haar ouers moes onder meer afsprake maak om haar te sien en sy moes toestemming vra om hulle te besoek. "Ek moes gewig optel. Ek moes my hare kort dra en hy wou my klerekas vervang," skryf sy weer soos sy al tevore in die media ook vertel het.

Hy het haar nooit fisiek aangerand nie, maar die huishouding het om sy reëls en wette gedraai, sê Ina.

"Kotzé was obsessief oor my borste. Twee maande nadat ons begin uitgaan het, het hy my gevra om vir hom foto's van my kaal borste te stuur. Ek het geweier."

Nadat hulle getroud is, was hy steeds baie in Bloemfontein. Hy het bly aandring op die foto's. "Hy het vir my foto's van sy penis gestuur. 'Kyk hoe graag wil ek jou hê', het hy geskryf."

Uiteindelik het sy ingegee en vir hom 'n foto gestuur.

In Maart 2011 het Ina op 'n versteekte blik met vyf selfone afgekom. Op die fone was foto's van vroue se borste en geslagsdele. Sy verweer was dat hy sake van seksuele teistering teen die vroue oopgemaak het, skryf Ina. "Ek het hom nie geglo nie, maar ek het dit gelos."

Ina kon alles verduur, maar toe hy haar familie en kinders begin seermaak, het sy ingegee. "Dis toe ek die keuse gemaak het om weg te stap."

Op hul eerste huweliksherdenking het die huweliksbootjie reeds gesink. Ina en Angelique het uitgetrek, maar Kotzé het haar dopgehou.

Op 17 November het Kotzé skielik agter haar in die tuin verskyn. "Hy het gesê iemand in my familie, iemand baie na aan my, sal my die seerste maak.

"Hy het ook gesê die huis wat hy nou by Dirk van der Merwe in Modimolle huur, sal DIE huis in die dorp word. Ek het gedink hy verwys na verbeterings aan die huis wat hy wou aanbring. Ek het gee idee gehad wat hy werklik bedoel het nie."

"Toe kom 3 Januarie 2012."

  • Die sagteband boek van 252 bladsye is teen R195 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar en word deur Jacana Uitgewers uitgegee.

Danél Blaauw