Só kan jy jou selfoon of tablet naspoor as jy jou in ’n soortgelyke situasie bevind – moenie bekommerd wees nie, daar is ’n weergawe vir Android-gebruikers ook!

Find my iPhone (vir Apple-tablette en -fone)

Die geheim om sulke apps te gebruik, is dat dit op jou foon of tablet aktief moet wees voor dit gesteel word. Deesdae word Find my iPhone (of Find My iPad) vooraf op die meeste iOS (Apple se bestuurstelsel)-toestelle gelaai.

Lees ook: Seun kom tot ouers se redding ná hy rooftog oor Skype sien gebeur

Vir ouer iOS-toestelle kan die app gratis by die App Store afgelaai word.

Dit verg min moeite om die app te gebruik; jy sal net moet seker maak jy is by iCloud ingeteken. Dit kan onder “Settings” gedoen word.

Maak ook onder “Settings” seker “Find My iPhone” is geaktiveer. Om dit te doen, tik op die “Find My iPhone”-ikoon en maak seker die glyer is op “aan” gestel (groen).

Dit is ook nuttig om “Send Last Location” onder die verstelling ook aan te skakel. So sal jy die laaste plek kan sien waar jou foon aangeskakel was as dit doodgaan of afgeskakel word (of jy dit bloot verloor) – ’n goeie plek om te begin soek.

In die ongelukkige geval dat jou toestel gesteel word, is jy gereed. Meld by die naaste beskikbare rekenaar met ’n internetverbinding aan en navigeer na die iCloud- webtuiste. Meld aan met jou besonderhede.

Lees ook: Selfbestuur op die snelweë van Nevada: nuwe Mercedes-Benz E-Klas

Wanneer jy aangeteken is, sal jy ’n kaart sien wat die laaste bekende plek aandui van die verskeie toestelle* wat jy aan jou iCloud-rekening gekoppel het.

Terloops, as jy familielede het wat ook iOS-toestelle het, wil jy dalk “Family Sharing” opstel sodat jy hul toestel ook met “Find My iPhone” kan naspoor. Jy kan hier uitvind hoe om dit te doen.

Wanneer jy Find My iPhone deur die iCloud-webtuiste kyk, kies die toestel wat jy wil naspoor. Jy sal drie keuses kry:

  • Speel klank – Dit sal jou toestel hard laat biep, al is dit op vibreer of stil gestel. Dit is baie nuttig as jy jou foon in om of die huis verlê het.
  • Verlore-modus – As jy hierdie opsie kies, sal jy gevra word om ’n foonnommer in te tik wat op die skerm van jou vermiste toestel sal wys – net ingeval ’n barmhartige Samaritaan dit opgetel het wat jou sal wil kontak. Dit sal ook ’n harde biepgeluid begin uitstuur.
  • Uitvee – Dit is basies ’n selfvernietgingsknoppie. As jy dink jou toestel is dalk vir goed verlore, of jy is bekommerd iemand kry toegang tot jou privaat data, kan jy dié opsie kies om oor ’n afstand alles op jou toestel uit te vee.

Android-toestelle

Daar is talle apps beskikbaar wat op Apple se Find My iPhone geskoei is vir toestelle met Android-bedryfstelsels. Maar een van die bestes is Google se eie Android Device Manager.

Dit behoort reeds op die meeste Android-toestelle geïnstalleer te wees, maar jy kan dit ook hier aflaai.

Wanneer jy seker is jy het dit:

  • Gaan na “Settings”.
  • Onder die “Permissions”-seksie, tik “Security”.
  • Rol af en tik “Device Administrators”.
  • Tik op “Android Device Manager”.

Siedaar, jy’s gereed! As jou Android-foon gesteel word, navigeer na die  Android Device Manager-instrumentpaneel in jou rekenaar se blaaier. Jy sal op jou Google-rekening moet aanmeld.

Sodra jy aangemeld het, sal jy ’n kaart sien wat die laaste bekende ligging aandui van alle toestelle* wat jy aan jou rekening gekoppel het, en hoe laat dit die laaste keer bespeur is.

Van hier af het jy vier keuses:

  • Vind toestel – “Device Manager” sal jou toestel op aanvraag probeer soek.
  • Lui – Jou toestel sal 5 minute op die hardste lui, al is dit op stil of vibreer gestel.
  • Sluit – Jy sal gepor word om ’n wagwoord te skep en dan dadelik die toestel sluit – al gebruik iemand dit tans. Dit kan net oopgesluit word deur jou nuwe wagwoord in te tik.
  • Vee uit – Dit sal al jou inligting en verstellings van jou foon af vee en dit na die fabrieksverstellings terugstel.

*Let wel: As jy jou gesteelde toestel nagespoor het, moet jou nie alleen na die plek haas nie. Gaan na die naaste polisiekantoor en vra hulp.

Ekstra bronne: makeuseof.com, imore.com