Die Brasiliaanse model Kat Torres het bevestig sy en Leonardo DiCaprio is ’n paartjie.

Kat (24) sê die Great Gatsby-ster (38) is wonderlik. Sy erken hy gaan dalk vies wees omdat sy oor hul verhouding gesels het. Leonardo het vroeër vanjaar uitgemaak met Toni Garrn (21), ’n Victoria’s Secret-model.

Kat het aan die Brasiliaanse koerant Extra gesê: “Ek het Leo in Cannes ontmoet. Ons het tydens die rolprentfees in dieselfde huis gebly. Leo is wonderlik, maar ek is bekommerd oor wat hy daarvan sal dink dat ek met julle gepraat het. Ons het ’n ooreenkoms dat niks oor ons verhouding gesê mag word nie. Dis anders in Europa. Mense sien ons by so baie plekke saam, hulle hoef ons oor niks uit te vra nie.”

Leo en Kat is al by verskeie geleenthede saam opgemerk. Die blonde model, wie se regte naam Katiuscia Torres Soares is, sukkel nog om aan die steelfotograwe gewoond te raak.

Sy het gesê: “Ek weet regtig nie hoe die fotograwe ons foto gekry het nie, want ons het lyfwagte gehad en onder geen omstandighede kon iemand naby ons kom nie.

“Hy hou nie daarvan om afgeneem te word nie en sodra mense besef dis hy, wil hy skaars gaan stap.”

Leonardo het voorheen ’n vier jaar lange aan-/afverhouding met die Brasiliaanse model Gisele Bündchen (33) gehad. Hy en die Israelse model Bar Refaeli (28) is in 2011 ná ses jaar uitmekaar.