Glasgow - Zara Dunstance (30) het halsoorkop verlief geraak op Gareth Murphy (28). Maar gou het daar skaduwees in die verhouding ingesluip. Sy het ongemaklik begin voel toe sy liefde en geneëntheid in 'n obsessie ontwikkel het. Hy het duisende ponde op haar en geskenke vir haar spandeer.  

"Vir hom het alles oor voorkoms gegaan. Hy het vir my klere gekoop wat sy goedkeuring weggedra het. Hy wou my in 'n Barbie verander, 'n klein poppie wat hy kon aantrek.

"Hy het daarop aangedring om £3,500 (bykans R76,000) te betaal vir 'n borsvergrotingsoperasie vir my.  Hy het gesê dit gaan my lewe verander," het Zara aan The Sun vertel. Toe sy van die narkose herstel het, het 'n ysingswekkende verrassing op haar gewag: Murphy het haar naam op sy bors laat tatoeer. Maar toe hy voorturend verskonings bied sodat hy sy besittings na haar huis kan neem, het sy besluit om Google te gebruik om meer oor hom uit te vind.

"Hy het gesê hy gaan my kop afkap - ek het hom geglo"

Groot was haar ontnugtering toe sy besef haar eens liefdevolle, nou obsessiegedrewe kêrel van nege maande het 'n kriminele verlede. Hy was selfs al tronk toe vir twee jaar nadat hy 'n vorige meisie, Amy Carr, op 'n skrikwekkende rit rondom Wirral en Noord-Wallis geneem het.

Toe Zara vir Murphy met die Google-inligting konfronteer, het hy gedreig om suur in haar gesig te gooi.

"Hy het ook gesê hy gaan my kop afkap - ek het hom geglo."

Sy beweer Murphy was gevaarlik en wou deurentyd weet waar sy was. Sy moes voortdurend in haar eie huis op eiers loop tot waar hy haar een oggend onverwags betrek het.

"Hy het op die bed gespring en my in die gesig begin moker. Hy het my geskop en daarna probeer om my op die vloer te verwurg," vertel 'n ontnugterde Zara.

"Dis moeilik om al die besonderhede te onthou, maar ek het gedink ek gaan sterf."

Murphy is 10 maande tronkstraf toegedien en word verbied om vir die volgende twee jaar met Zara kontak te maak.

"Ek dink nie ek sal ooit weer herstel as so-iets weer met my moet gebeur nie. Ek sal vir ander vroue wat dieselfde ervaar, sê hulle moet weet dat dit nie hulle skuld is nie. Hulle moet daaruit kom so gou as moontlik," sê Zara ten laaste.

Bronne: thesun.co.uk, dailyrecord.co.uk

KLIEK HIER: Hoe om uit 'n gewelddadige verhouding te ontsnap

>KLIEK HIER vir meer inligting oor POWA en hulp