WATER spat die wêreld vol. In die Bluewater Bay Lifestyle-sentrum buite Port Elizabeth kry die vyfjarige Mziyanda “Mbesuma’’ Madikane sy eerste swemles. Sy swemafrigter is niemand anders nie as die nuwe Mnr. Suid-Afrika, Denver Burns.

Klein Mbesuma van KwaZakhele is een van ’n groepie township-kinders wat Denver leer swem om die landwye vlaag van verdrinkings – tot 18 kinders per maand – te probeer stuit. Dis ’n voorsetting van die projek wat Denver as Mnr. Suid-Afrika-finalis begin het.

“Die projek het my saam met die kinders by die diep kant ingegooi, want net soveel as wat ek hulle wil leer, het hulle my reeds geleer: dankbaarheid, dapperheid en geesdrif. Ons aanvaar dikwels dinge soos om te kan swem as so vanselfsprekend. Vir hierdie kinders maak dit wêrelde oop,’’ vertel Denver.

Hy is in die swembad besig om Mbesuma te leer dryf. Die seuntjie se gesiggie straal. Dis moeilik om te glo hy was minder as ’n uur gelede nog nooit in die water nie.

“My hart voel nou ligter. Ons bly by die see en daar is baie water wat gevaarlik kan wees as kinders nie kan swem nie,’’ sê die seuntjie se ma, Luleka, dankbaar. “En dalk is hy die volgende Ryk Neethling,’’ lag sy. “Ek self waag dit net voor rond in die branders.”

Die eienaar van die sentrum, Fabian Smith, is al 15 jaar bevriend met Denver en het so betrokke geraak by sy Leer-om-te-swem-projek. Hy en Denver het juis onlangs saam aan die Ystermankompetisie deelgeneem. “Dit was rof, maar dit was lekker om so iets uitdagends saam met Denver te doen,’’ vertel Fabian.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010