Dis ’n mite dat melk ’n mens vet maak en hartsiektes veroorsaak. As deel van ’n gebalanseerde dieet, is selfs volroommelk gesond. Ander hoëvet-suiwelprodukte soos room, botter en harde kaas, behoort net af en toe, en in kleiner hoeveelhede, ingeneem te word.

Goeie vet

Die vet in voedsel bestaan nie net uit een soort vet nie, maar is ’n mengsel van versadigde vetsure (VVS), mono-onversadigde vetsure (MOVS) en poli-onversadigde vetsure (POVS). Die tipe vet in die dieet is belangrik, aangesien sommige vette ’n positiewe uitwerking het op normale groei en ontwikkeling en die werking van die brein.

Ander soort vette kan bloedcholesterolvlakke beïnvloed, en kan bydra tot die ontwikkeling van hartkwale en beroerte-aanvalle. In die 50’s is die inname van melk, soos van baie ander voedselsoorte, insluitende eiers, as nadelig beskou weens die vet en cholesterol in diereprodukte.

Dit het gelei tot die vervaardiging van baie laevetmelk en ander suiwelprodukte, wat tog goed is om die algehele vetinhoud van die dieet te verminder. Tog is ’n aansienlike deel van die versadigde vetsure in melk kortkettingvetsure, asook die langkettingvetsure steraïese sure, wat cholesterol nie nadelig beïnvloed nie.

Melk is laevet (~3g/100g vir volroommelk of minder vir laevetmelk of vetvrye melk) en laag in natrium. Voedsel word as laag in vet beskou wanneer dit 3 g of minder as 3 g vet per 100 g bevat.

Volroommelk bevat sowat 3,4g per 100 g, terwyl laevet- en vetvrye melk selfs minder vet bevat. Kaas is baie hoër in vet, aangesien jy baie melk nodig het om kaas te vervaardig (harde kase bevat gewoonlik sowat ’n derde vet).

Hoekom is melk belangrik?

Onlangse studies toon ons het suiwelprodukte in ons dieet nodig vir gesonde tande en bene, maar ook om baie ander redes.

  • Die inname van suiwelprodukte kan vereenselwig word met verlaagde bloeddruk en risiko van beroerte.
  • Bioaktiewe bestanddele (die spesifieke tipes proteïene, vitamiene en ander voedingsbestanddele) wat teen hartsiektes kan beskerm.
  • Suiwelverbruik kan mense wat oorgewig is teen insulienweerstandigheidsindroom beskerm. Insulienweerstandigheidsindroom of metaboliese sindroom is ’n kombinasie van metaboliese versteurings, soos hoë bloeddruk, hoë bloedcholesterol en insulienweerstandigheid, wat die risiko verhoog om diabetes of hartsiektes te ontwikkel.
  • Kalsium en ander suiwelprodukte beskerm teen lae beendigtheid en osteoporose, osteoartritis en jig.

Magiese melk

Wat is die “magiese bestanddeel” in melk en suiwelprodukte wat teen hipertensie en beroerte beskerm?  ’n Hoër suiwelinname, as deel van ’n gebalanseerde dieet, beskerm teen hipertensie en beroerte.

Kalsiuminname uit suiwelprodukte, en nie uit niesuiwelprodukte nie, hou verband met ’n verminderde risiko van beroerte. Ander melkminerale, soos kalium en magnesium, kan ook ’n belangrike beskermende rol speel. Dis moeilik om enige van hierdie minerale in melkprodukte op hul eie in verband te bring met hierdie beskermende uitwerking.

Tog moet in gedagte gehou word ’n balans van kalsium, magnesium en kalium, asook ander bioaktiewe bestanddele in melk, is belangrik – en hierdie drie minerale kom volop voor in melk en suiwelprodukte. Melk is ’n laenatrium-proteïenvoedsel.

Mense wat aan hoë bloeddruk ly, sal die meeste baat vind by ’n verhoogde inname van laevet- of vetvrye melk en ander suiwelprodukte. Hul dieet moet volop vrugte en groente bevat en min natrium (sout).

Suiwel kan oorgewig mense teen insulienweerstandigheidsindroom beskerm

Die huidige aanbevelings vir leefstyl en dieet vir die bestuur van insulienweerstandigheid sluit in die inname van mono-onversadigde vet (olyfolie, canola-olie, avokado en die meeste neute), verminderde inname van versadigde vette, meer vesel in die dieet, die gebruik van koolhidrate met ’n lae glisemiese indeks, gewigverlies en oefening.

Navorsing toon suiwelinname kan ook ’n voordelige uitwerking hê op metaboliese sindroom (’n kombinasie van metaboliese versteurings, soos hoë bloeddruk, hoë bloedcholesterol en insulienweerstandigheid, wat die ontwikkeling van diabetes en hartsiektes verhoog).

Kalsium en suiwelprodukte kan bydra tot gewigbeheer

Suiwelprodukte kan help om ’n ideale liggaamsgewig in kinders en volwassenes te behaal en te handhaaf.

’n Dieetpatroon wat hoog is in vrugte en suiwel, en laag is in witbrood, verwerkte vleis, margarien en  koeldrank, kan die opbou van maagvet help verhoed.

Kalsium in die dieet is blykbaar verantwoordelik vir sowat die helfte van die bioaktiwiteit van suiwelprodukte wat vetsug teenwerk. Die bykomende bioaktiwiteit in suiwel is nog nie heeltemal geïdentifiseer nie, maar kom hoofsaaklik voor in melkweiproteïen.

Neem jy en jou gesin genoeg melk en suiwelprodukte in om jul gesondheid te beskerm?

Suiwelprodukte is by verre die rykste bron van kalsium – nie net oor hul hoë kalsiuinhoud nie, maar ook danksy die afwesigheid van faktore wat kalsiuminname kan belemmer (soos die fitate in plantaardige voedsel soos soja) en die teenwoordigheid van laktose, wat kalsiumopname aanhelp.

Aanbevelings

Laevet- of afgeroomde melk moet gebruik word in ooreenstemming met gesonde laevet-riglyne. Volwassenes en adolessente moet ten minste twee tot drie porsies laevetsuiwelprodukte per dag eet.

  • Melkinname moet sowat 600 ml per dag wees vir kleuters en jong kinders.
  • Volroommelk mag met veiligheid vir kinders van 12 maande oud gegee word.
  • Laevetmelk mag eers vir oorgewig kinders gegee word vanaf twee jaar. Ná die ouderdom van vyf jaar is dit die beste om laevetsuiwel volgens die gesonde laevet-riglyne te begin gee.
  • Die raad van kenners moet ingewin word om optimale kalsiuminname deur dieet te verseker vir diegene wat verkies om nie melk in te neem nie, of vir die gebruik van kalsiumaanvullings.

Porsies:

  • Melk, laevet of afgeroom - 1 kopie (250 ml)
  • Maas, laevet - 1 koppie (250 ml)
  • Jogurt, laevet, versoet - 1 bakkie 100ml
  • Afgeroomde melkpoeier - ¼ koppie
  • Laevetmaaskaas - ¼ koppie
  • Vetvrye gewone jogurt - 1 koppie
  • Kaas (harde kaas) - 30g

- Irene Labuschagne

  Irene is die hoof-dieetkundige in die Voedingsinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch (NICUS of Nutrition Information Centre University of Stellenbosch), by die fakulteit van gesondheidwetenskappe,  Tygerberg.