In haar soektog na haar ma, Nadezjda, het die tiener op ’n gewilde Russiese televisieprogram verskyn. Hulle is daar herenig, maar Nadezjda het gesê sy sou Katja net terugneem as sy ’n operasie ondergaan om haar ’n “normale gesig” te gee.

Die desperate Katya het ingestem en die plastiese chirurg Andrei Isjtsjenko het aan die werk gespring.

Foto: Magazine Features

Nadezjda het op die program verduidelik sy bly op ’n klein dorpie en die inwoners sou Katja nie onvoorwaardelik aanvaar nie.

Sy het gesê as Katja ’n normale gesinslewe wou hê, sou sy ’n “normale” gesig moet hê.

Katja het egter nie herstel van haar laaste operasie in ’n kliniek in die Russiese hoofstad, Moskou, nie.

“Ná die prosedure het haar hart skielik onreëlmatig begin klop en toe gestop. Daar was geen voor die hand liggende redes wat dit kon veroorsaak het nie,” sê Irina Makarowa, ’n woordvoerder vir die kliniek. 

“Dokters het haar twee en ’n half uur lank probeer bybring. Die lykskouing het getoon haar dood was nie hul skuld nie.”

Katja het toe reeds verskeie suksesvolle operasies ondergaan wat haar voorkoms beduidend verbeter het.

Nadezjda het gesê nadat sy gekraam het, het sy gehoor haar dogter sou hoogstens ’n maand leef; daarom het sy haar by die weeshuis gelos. 

Sy blameer nie die dokters vir haar dogter se dood nie. “Ek kan nie my kind terugbring nie. Voor die operasies het sy so baie toetse ondergaan; God het haar waarskynlik net soveel tyd gegee.”

Die polisie ondersoek die saak en nog ’n lykskouing word beplan.