Formule Een (F1) se voormalige hoofdokter sê “ernstige misstappe” in Michael Schumacher se vroeë behandeling kon dalk sy toestand vererger het. Hy waarsku dat ook dat die oudkampioen se kans op herstel van die ski-ongeluk algaande verskraal. Gary Hartstein, wat tot 2012 ’n mediese spanlid van F1 was, skryf op sy blog, hy het by “betroubare bronne wat toegang het tot dié inligting”, gehoor dat daar foute begaan is tydens die Duitse renjaer se aanvanklike sorg.
'Ek dink daar is ernstige oordeelsfoute begaan tydens Michael se vroeë behandeling...'

“Ek dink daar is ernstige oordeelsfoute begaan tydens Michael se vroeë behandeling... Dié foute kon (en het sekerlik) nadelig ingewerk op sy toestand,” het hy geskryf.

Gary het later op Twitter verduidelik dat hy verwys het na “afskeepwerk” met voorhospitaalsorg, en nie na die standaard in die Grenoble-universiteitshospitaal (waar die kampioenrenjaer behandel word) nie.

Gary het nie uitgewei oor watter foute Michael (45) kon benadeel het nie. Michael is nog in ’n geïnduseerde koma ná ’n ski-ongeluk op 29 Desember.

In die blog, wat hy voor vandeesweek se Maleisiese Grand Prix geskryf het, sê Gary: “Mettertyd . . . raak dit ál minder waarskynlik dat Michael enigsins betekenisvol gaan ontwaak.”

Michael se toestand weeg swaar op die F1-wêreld: Sy voormalige renspan, Ferrari, het vandeesweek ’n spanfoto getwiet met seënwense en die boodskap: “Forza Michael”.

- Sapa