Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder, sê ’n beampte wat van diens af was, is wakker gemaak deur sy seun se geskree.

“Die polisielid was aan die slaap in sy slaapkamer toe hy sy seun om hulp hoor skree. Toe hy na hom gaan, het hy gesien sy seun is in ’n struweling met die verdagte en hy bloei,” sê sy.

“Die polisieman het toe vir sy vrou geskree om sy vuurwapen aan te gee, wat sy ook gedoen het. Die beampte het na sy seun se kamer gegaan en ná ’n struweling ’n mes by die verdagte afgeneem,” sê Thembeka.

Tydens die worsteling het die inbreker ’n vuurwapen uitgepluk wat later geblyk het ’n speelding te wees.

“Die polisieman het die verdagte platgedruk tot sy vrou sy diensvuurwapen aangegee het en hy het die man (die verdagte) toe in die maag geskiet. Die verdagte is op slag dood,” sê sy.

Die beampte se seun is na die hospitaal gehaas waar hy aan sy beserings beswyk het. Hy het ’n steekwond aan die linkerkant van sy liggaam opgedoen.

Bron: News24