’n Gesoute ondersoeker wat die onwettige gebruik van gifstowwe in die land ondersoek, meen “honderde honde” word elke maand landwyd vergiftig.
'Honderde honde word elke maand vrek gemaak en daar is nie ’n enkele plek in die land wat nie geraak word nie,' sê Gerhard.

Dié week het The Witness berig honde in Pietermaritzburg is nie immuun teen die dodelike misdaadtaktiek nie, met sommige veeartse wat sê minstens drie honde per maand word vir vergiftiging opgeneem.

Gerhard Verdoorn, die direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, sê die gebruik van aldicarb verteenwoordig “waarskynlik meer as 90 persent van vergiftigingsgevalle” waarin misdadigers waghonde vergiftig. Die oorblywende 10 persent word as onopsetlik beskou, soos ’n hond wat rotgif vreet wat in ’n huis geplaas is.

Gerhard, wat 25 jaar ondervinding het en hoofsaaklik die nasionale departement van landbou en die Suid-Afrikaanse Polisiediens bystaan, sê aldicarb is die hoof aktiewe bestanddeel wat in party plaagdoders gebruik word.

Dit word in dele van Europa verbied en kan nie meer wettig in Suid-Afrika verkoop word nie. Bayer GeoScience was eens die alleenverspreider en vervaardiger van aldicarb, wat in sy plaagdoder met die handelsmerk Temik gebruik is. Bayer het sy lisensie om die chemikalie te vervaardig in 2012 laat verval en Temik is nie meer op die mark verkrygbaar nie.

“Onwettig ingevoerde aldicarb word deur die grens met Mosambiek en Zimbabwe ingebring. Dit wat hulle inbring, is nie Temik nie. Daar is minstens vyf verskillende [weergawes] van aldicarb wat by die land ingebring word. Dit is ’n onbekende aldicarb.

“Een Chinese aldicarb waarvan ons weet, lyk soos buskruit. Dit is baie gevaarlik. Dan is daar nog ’n aldicarb wat soos Temik lyk, maar nie is nie. Dit word alles gebruik om honde of wild mee vrek te maak.

“Honderde honde word elke maand vrek gemaak en daar is nie ’n enkele plek in die land wat nie geraak word nie,” sê Gerhard.

Hy sê dit is nie ongewoon dat hele plaasgemeenskappe se honde vergiftig word en hul persele dan beroof word nie.

Aldicarb staan op straat as Two Step bekend, want dit kan ’n dier binne soveel treë doodmaak.

The Witness