[caption id="attachment_162054" align="alignnone" width="603"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Vrydag die amptelike misdaadstatistiek vir 1 April tot 31 Desember 2016 aan die parlement se polisieportefeuljekomitee bekendgemaak. Die prentjie wat die SAPD tydens dié bekendmaking geskets het, is dié van ’n land wat die stryd teen misdaad wen.

Volgens die statistiek is 14 333 moorde in die tydperk onder oorsig aangemeld, 10 minder as in die voorafgaande nege maande.

In die eerste trimester was daar ’n 0,6 persent toename in moord vergeleke met ’n jaar vantevore. In die tweede trimester het dit met 1,9 persent toegeneem. In die derde trimester was die afname 2,3 persent; vandaar die daling van 0,1 persent in die hele negemaandetydperk.

Terwyl minder moorde aangemeld is in die Noord-Kaap, Limpopo, Vrystaat, Oos-Kaap en Noordwes, is 0,7 persent meer van dié misdade in die Wes-Kaap gerapporteer.

KwaZulu-Natal het ’n toename van ’n 1,7 persent ervaar, Gauteng 3,7 persent en Mpumalanga 6,8 persent.

In sy voorlegging het Norman Sekhukhune, die SAPD se hoof van misdaadnavorsing en statistiek, gesê 447 van die moorde in die eerste trimester is met ’n vuurwapen gepleeg.

Volgens hom kan sommige van die moorde in die oorsigtydperk aan die munisipale verkiesing in Augustus 2016 toegeskryf word, toe van die kandidate om die lewe gebring is. Ook het 109 van die aangemelde moorde, waarvan 47 in Gauteng was, met taxigeweld verband gehou. Dit was meestal wraakaanvalle wat deur huurmoordenaars uitgevoer is.

Gesinsgeweld het ook ’n rol gespeel in die moorde wat in die eerste trimester van die oorsigtydperk aangemeld is, het hy gesê. Altesaam 344 het met sulke voorvalle verband gehou.

Dit het tot 3,8 persent van die moorde bygedra.

Bendegeweld was ook prominent, veral in die Oos- en Wes-Kaap in die eerste ses maande van die oorsigtydperk.

In Delft in die Wes-Kaap, byvoorbeeld, het 31 mense hul lewe in Augustus 2016 in bendevoorvalle verloor, het Norman gesê.

Seksuele oortredings

In die oorsigtydperk is sowat 2 500 minder gevalle van seksuele oortredings aangemeld. In dié tydperk is 30 069 verkragtings aangemeld, vergeleke met 32 161 in die ooreenstemmende tydperk ’n jaar vantevore. Die jongste syfer kom steeds neer op sowat 110 aangemelde verkragtings per dag.

Daar was 4 815 gevalle van seksuele aanranding in die oorsigtydperk, ’n afname van net twee vergeleke met die vorige jaar.

Die getal aangemelde verkragtings het in die nege maande in al die provinsies afgeneem. Die Noord-Kaap het die hoogste afname van meer as 14 persent ervaar.

Terwyl verkragting met 0,7 persent afgeneem het in Gauteng, is die provinsie steeds die grootste bydraer tot hierdie kontakmisdaad met meer as 5 900 verkragtings wat in die nege maande aangemeld is.

Bron: News24