maddie

Die ondersoeker Moita Flores het aan die Portugese webtuiste Flash! gesê hy glo dit is wat gebeur het met die driejarige wat in 2007 spoorloos verdwyn het.

Hy meen verder dit sou onmoontlik wees vir ’n ontvoerder om met ’n kind deur die hotelkamer se venster te klim.

Maddie, soos sy ook bekendstaan, se ouers, Kate en Gerry, was die aand van 3 Mei 2007 besig om by ’n eetplek by die vakansieoord op Praia da Luz, Portugal, te kuier toe hul dogtertjie verdwyn het.

Hulle soek sedertdien strykdeur na haar en glo vas hulle gaan haar nog lewend opspoor.

Moita voer aan dat ’n rekonstruksie van daardie aand se gebeure en die hotelkamer die enigste uitweg is om die saak op te los.

Clarence Mitchell, woordvoerder vir die McCanns, het aan The Sun Online gesê Kate en Gerry gaan nie kommentaar lewer op “blote bespiegeling” nie.

Nuusberigte oor die volgehoue soektog is steeds dikwels wêreldwyd in die nuus.

Huisgenoot het vroeër hierdie week berig dat Britse wetstoepassers ’n bykomende R1,3 miljoen bewillig om die ondersoek tot in September voort te sit.

Volgens gerugte is die polisie op die spoor van ’n voormalige werker by die Ocean Club-oord, waar die McCanns gebly het, want die Portugese man het dalk deurslaggewende inligting wat die raaisel agter die blonde meisie se verdwyning kan oplos.

“Hulle gee nie te kenne hy het Maddie ontvoer nie, maar hy ken dalk mense wat betrokke kon gewees het,” het ’n Portugese polisieman glo gesê.

Maar die Britse polisie is doodstil oor die nuwe leidraad en ’n woordvoerder het bloot geantwoord die ondersoek deur ’n spesialisspan ondersoekers by Scotland Yard – wat as Operation Grange bekendstaan – “stoom voort”.