Minstens nege mense is Donderdagoggend op die R82 naby Walkerville buite Johannesburg in ’n minibustaxi-botsing dood.

“Volgens berigte van die toneel het die taxi oor die pad geswaai en in ’n beton busstop vasgery,” sê Netcare 911-woordvoerder Chris Botha.

“Paramedici het op die toneel aangekom en gesien die taxi is uitmekaar geskeur, wrakstukke van die ongeluk en beseerde pendelaars was oor ’n groot area gestrooi.”

Nadat die beseerdes gesorteer is volgens die aard en erns van hul beserings, is gevind nege mense is op slag dood, twee is in ’n kritieke toestand, terwyl vier mense ernstige beserings opgedoen het, sê Chris.

Die oorlewendes is gestabiliseer en vir verdere behandeling na hospitale geneem.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Bron: News24