Volgens internasionale nuusbronne het minstens 84 mense gesterf en is honderde mense beseer ná die vragmotor glo teen ’n spoed van meer as 60 km per uur op die skare - wat pas ’n vuurwerkvertoning gekyk het - afgepyl het. Beeldmateriaal wys hoe polisie vergeefs probeer om die trok te stop en dit net onverpoos verder jaag op die besige Promenade des Anglias in Nice.
Die trokdrywer het vir sowat twee kilometer gery voor die vragmotor tot stilstand gekom het. Volgens getuies het die bestuurder toe uit die vragmotor geklim en met ’n vuurwapen begin skiet. Vakansiegangers en inwoners van Nice wat die vuurwerkvertoning op die besige strand langs die promenade bygewoon het, het in alle windrigtings gespat. "Die trok het oor alles gery," het een ooggetuie aan Sky News gesê. "Pale, bome; ons het nog nooit so iets in ons lewe gesien nie. Mense het aan die trok se deure gehang in ’n poging om dit te stop." Grafiese foto's op sosiale media wys die liggame van volwassenes en kinders in die pad waardeur die trok geruk het. Noodwerkers het hulle na die toneel gehaas.
Die polisie het eindelik ongeveer 00:30 Suid-Afrikaanse tyd daarin geslaag om die trokdrywer dood te skiet. Verskeie wapens, ammunisie en handgranate is in die trok gevind. Volgens AFP is die identiteitsdokumente van ’n Franse-Tunisiese man ook gevind.

Die oorsaak - of motief - van die voorval is nog onbekend. Owerhede het dit nog nie amptelik as ’n terreuraanval verklaar nie, maar die vermoede bestaan. Geen terroristegroep het tot dusver verantwoordelikheid vir die aanvaal aanvaar nie.

Frankryk se president, Francois Hollande, het wel gesê dat dit beslis ’n terreuraanval was.

Bastilledag is die grootste openbare vakansiedag in Frankryk. Die dag herdenk die bestorming van die Bastille-tronk in 1790.

Bronne: CNN; BBC; Sky News